God se beste nuus: Dit begin en eindig met Jesus - 30 Junie 2025
Louise Gevers
Toe ek Hom sien, het ek voor sy voete neergeval soos 'n dooie, maar Hy het sy regterhand op my gelê en gesê: “Hou op om bang te wees – Ek is die Eerste en die Laaste en die Lewende. Ek was dood, maar kyk, Ek leef vir ewig en ewig; ook hou Ek die sleutels van die dood, en van Hades. Openbaring 1:17-18, 2020-vertaling
“The splendour of the King, clothed in majesty; let all the earth rejoice …” is die openingsreël van die bekende Engelse lied, "How great is our God". Hierdie woorde beskryf iets van die ontsaglike majesteit van "die Eerste en die Laaste" in ons teksvers vir vandag, van die “... Alfa en die Omega, die Een wat is en wat was en wat kom, ... Here God, die Almagtige." (Openbaring 1:8) Dit is die hart van die Openbaring – die laaste boek in die Bybel – wat aan ons die beste nuus ooit bring.
Alhoewel die visioene waardeur aan Johannes dit wat nog gaan kom geopenbaar is, soms diepgaande en misterieus is, word ook – deur boeiende en aangrypende beelde – God in al sy majesteit en die eenheid van die Vader, Seun en Heilige Gees, in Openbaring beskryf. Voortdurend tree die bekende, maar nou verheerlikte Persoon van die Here Jesus Christus na vore – stralend, seëvierend en bo alles verhewe.
Daar is 'n gevoel van die Ou en Nuwe Testament wat soos 'n tapisserie saamgeweef word. Al die los draadjies word bymekaargevat – beloftes word vervul wanneer ou profesieë waar word – en Jesus in sy Goddelike majesteit word geopenbaar. Hy is die Een "wat op die troon sit" en wat sê: “Kyk, Ek maak alles nuut” en wie se "woorde betroubaar en waar is". (Openbaring 21:5) Dieselfde Jesus wat in die begin van die skepping teenwoordig was, sal ook aan die einde die nuwe aarde en die nuwe hemel inlui. Jesus is ons enigste hoop! Alles gaan oor Hom.
Jesus se aardse lewe – sy leringe, wonderwerke en opoffering – kan nie geskei word van sy Goddelike identiteit nie. In die begin was Hy die Woord; Hy "was by God" en Hy "was God". (Johannes 1:1) Getrou aan die woorde van Jesaja se profesie (Jesaja 55:1) wat ook weerklank vind in Jesus se woorde aan die vrou by die put, (Johannes 4:10) verklaar Hy: "Ek is die Alfa en die Omega, die Begin en die Einde. Dié wat dors is, sal Ek laat drink uit die fontein van lewegewende water – verniet! (Openbaring 21:6)
Johannes was 'n getuie "dat In Hom [Jesus] was lewe, en dié lewe was die lig vir die mense." (Johannes 1:4) Hy het geweet dat Jesus was "die Woord [wat] vlees geword [het] (Johannes 1:14) en wat beloof het: "maar julle sien My omdat Ek leef en julle sal leef". (Johannes 14:19)
Maar in Openbaring, toe Johannes "die Eerste en die Laaste ... die Lewende" ontmoet, was hy verstom en het neergeval. Tog, ten spyte van Jesus se verheerlikte voorkoms, is Hy steeds dieselfde deernisvolle Verlosser wat na Johannes uitreik en hom vertroos met die woorde: "Hou op om bang te wees" – onveranderlik in sy liefde want "Jesus Christus is gister en vandag dieselfde, en tot in ewigheid." (Hebreërs 13:8) Die opgestane en verheerlikte Jesus stel hom gerus: "Ek was dood, maar kyk, Ek leef vir ewig en ewig."
In volmaakte gehoorsaamheid bewys Jesus God se liefde vir die wêreld deur te sterf en so die mensdom te verlos en die weg na die ewige lewe te baan vir elkeen wat in Hom glo. Deur sy lewe het Jesus God se liefde en genade in aksie geopenbaar – Hy het getrou die belangrikste gebod vervul deur God met sy hele hart en siel lief te hê en sy naaste soos Homself. (Matteus 22:38-40)
Jesus is van begin tot einde God se beste nuus, en Hy leef vir ewig!
Gebed: Ewige God, dankie vir u goeie nuus wat in en deur Jesus Christus, ons Verlosser, geopenbaar word. Dankie vir u beloftes in u Woord wat ons elke dag ontvang. Gee dat ons dit sal aanvaar en u wonderlike evangelie wyd en syd met die wêreld sal deel. In Jesus se Naam. Amen