Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Liefdesdriehoek - 3 Julie 2025

Ben Fourie
 
Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand en met al jou krag … 'Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.' ...  Markus 12:30-31, 2020-vertaling
 
My wiskunde op skool was beroerd. Algebra was my doodsteek. Onlangs ontdek ek 'n matriekrapport van vyftig jaar gelede. Ek behoort liewer daaroor te swyg, want die algebra was treurig, maar die meetkunde het darem gehelp dat ek slaag. Daarom weet ek nog wat 'n driehoek is en kan dit as metafoor van die verhouding tussen God, medemens en myself gebruik.
 
Die idee van 'n "liefdesdriehoek" het gewoonlik 'n negatiewe konnotasie, maar in 'n hierdie konteks gesien, is dit 'n perfekte beeld om die verhouding tussen bogenoemde drie te beskryf. Soos die hoeke van 'n driehoek onlosmaaklik aan mekaar verbind is, is God, ekself en my medemens onlosmaaklik aan mekaar verbind. Jesus vat dit pragtig saam in die woorde van ons teks.
 
As een van die hoeke van die driehoek lostorring, verval ook die ander twee. Maak self die som. Ek kan nie vir God liefhê terwyl ek my naaste haat nie. Die twee kanselleer mekaar uit. Net so kan ek nie vir God liefhê, maar myself haat nie. Dieselfde geld ook die verhouding met my medemens, ja selfs my vyand, vir wie ek nie kan liefhê as ek nie vir God liefhet nie. Erger nog, hoe kan God my liefhê as ek my medemens vir watter rede ook al haat?
 
Driehoeke kom in 'n verskeidenheid vorms. Dit is nie altyd in die mooi vorm van 'n gelyksydige driehoek nie. Die lewe verwring dikwels die mooiste vorm. Dikwels rek die driehoek uit tot twee lang sye en een baie kort sy en ek voel ver van my medemens of van God af. Soms voel ek verskriklik ver verwyder van myself. Ten spyte hiervan kan ons seker wees dat ons driehoek nooit uitmekaar sal val nie. Die geheim daarvan is God se groot liefde wat alles bymekaar hou.
 
Gebed: Ek dank U dat ek deel kan wees van die driehoek van die liefde. Help my asseblief om elke dag my hoek in stand te hou. Amen
Previous article: Aan God se liefde is daar geen einde nie - 4 Julie 2025 Prev Next article: Sonder liefde is ek niks - 2 Julie 2025 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.