Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Aan God se liefde is daar geen einde nie - 4 Julie 2025

Ben Fourie
 
Prys die Here, want Hy is goed – want vir ewig duur sy troue liefde. Psalm 136:1, 2020-vertaling
 
Psalm 136 bestaan uit twee strofes en elkeen van hulle eindig met presies dieselfde refrein: “want vir ewig duur sy troue liefde.” Dit is 'n psalm wat tydens godsdienstige samekomste gebruik is en dit was reeds lankal bekend. In 2 Kronieke 7 by die inwyding van die eerste tempel kom die refrein al voor wanneer die priesters en Leviete die Here prys. Die Levitiese kore het die eerste reël gesing en die volk het telkens geantwoord met die refrein. Wat 'n pragtige refrein is dit nie –vir ewig duur sy troue liefde, of soos die 1983-vertaling dit weergee – "Aan sy liefde is daar geen einde nie."
 
Die psalm val in drie dele uiteen met 'n inleidende eerste vers waar God as “goed” beskryf word. Uit God se “goed wees” vloei dan die res van alles wat die psalmdigter beskryf.
 
Eers word die grootheid van God besing soos wat dit te voorskyn kom in sy heerskappy, byvoorbeeld: ”Prys die Heer van die here” (Psalm 136:3) asook sy groot skeppingsmag: “wat met insig die hemel gemaak het.” (Psalm 136:5) Elkeen van sy skeppingsdade word beklemtoon met die gedagte van sy groot liefde wat geen einde het nie.
 
Die tweede deel handel oor God se groot liefde vir sy volk soos wat dit na vore kom met die uittog uit Egipte. Die volk getuig telkens weer met die refrein dat hulle begryp dat dit uit sy liefde vir hulle gedoen is
.
In Psalm 136:25 kom die derde deel na vore wanneer God nie geteken word as net die God van Israel nie, maar ook die Een wat “kos gee aan alles wat leef.” Hy sorg dus vir die hele skepping en hierop volg weer eens die refrein dat sy liefde vir die hele wêreld tot in ewigheid duur.
 
As alles wat ons hierbo gesê het dan waar is, kan ek en jy ook honderd persent seker wees sy liefde vir ons is grensloos.
 
Gebed: Saam met die hele skepping wil ek ook vir U dankie sê dat u liefde vir ons tot in ewigheid duur. Amen
 
Next article: Liefdesdriehoek - 3 Julie 2025 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.