Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Stil liefde - 11 Julie 2025

Ben Fourie
 
Die Here jou God is in jou midde, 'n held wat verlos. Hy verheug Hom met blydskap oor jou, Hy maak jou stil met sy liefde. Hy sal oor jou juig met jubelkrete.” Sefanja 3:17, 2020-vertaling
 
Ek het baie jare laas die boek van die profeet Sefanja gelees. Toe ek dit onlangs doen, ontdek ek hierdie juweel van 'n vers. God maak sy volk stil met sy liefde. 'n Mens kan amper nie glo wat jy hier lees nie. God jubel en juig oor sy volk. Om die volle impak van die vers te verstaan moet ons iets weet van die tyd en omstandighede waarin die profeet opgetree het.
 
Sefanja kry sy opdrag volgens die eerste vers van die boek in die tyd van koning Josia. Dit is ongeveer 640 v.C. Waarskynlik was dit heel aan die begin van Josia se regering, nog voordat hy groot hervormings op godsdienstige terrein aangebring het. Josia se pa, Amon, en sy oupa, Manasse, het afgodediens in Israel ingevoer. Dit is teen veral hierdie afgodediens wat Sefanja profeteer wanneer hy praat oor die groot dag van die Here wat op hande is. Dit is die groot dag van afrekening en verwoesting.
 
Te midde van hierdie doemprofesie skyn daar egter 'n helder lig in die donker. God gaan nie sy volk geheel en al verwerp nie. Hy beplan 'n heel nuwe bedeling vir die “oorblyfsel van Israel”, hulle wat geluister het en hulle verootmoedig het. Vir hierdie oorblyfsel sê God in ons teksvers dat Hy by hulle sal wees. Hy word voorgestel as 'n krygsman wat hulle sal uitred uit die komende oordeel.
 
Die vertaling van die vers is nogal moeilik. 'n Mens kan byvoorbeeld vertaal dat God deur sy liefde vir hulle nuwe lewe gee. Ek het verskillende kommentare oor die vers gelees en as ek kan saamvat is vir my die bevredigendste antwoord dat God die oorblyfsel so liefhet dat Hy hulle sal stil maak of anders gesê, hulle vrees sal wegneem wanneer die dag van afrekening opdaag. Dan sal Hy vir hulle 'n nuwe lewe gee. Ek sien in my verbeelding 'n prentjie van 'n Pa met sy klein kindjie aan die hand wanneer die gevaar dreig en wanneer die gevaar verby is stap hulle die nuwe lewe tegemoet.
 
Gebed: Dankie Here dat ek hand aan hand met U kan stap wanneer gevaar dreig. Amen
 
Previous article: Wie of wat is die belangrikste - 14 Julie 2025 Prev Next article: Godsdienstigheid nie altyd gelyk aan liefde nie - 10 Julie 2025 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.