Wie of wat is die belangrikste - 14 Julie 2025
Ben Fourie
... ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my! Die lewe wat ek nou liggaamlik leef, leef ek in geloof, die geloof in die Seun van God, wat my liefgehad en Homself vir my oorgegee het. Galasiërs 2:20, 2020-vertaling
By 'n jeugkamp in my skooldae het die dominee gevra wat die eerste ding is wat ons sal gryp as ons huis skielik aan die brand raak. Vroom het ons geantwoord – my Bybel.
As 'n mens vir 'n groep mense sou vra wat is die belangrikste woord in sy of haar lewe, sal jy sekerlik 'n uiteenlopende klomp antwoorde kry. Soos met die bogenoemde vraag aan ons klomp jongmense, sal baie mense 'n woord soos liefde, of omgee of mededeelsaamheid kies omdat hulle dink dit is hoe dit behóórt te wees, maar dit mag nie noodwendig in hulle lewens so wees nie.
As ons eerlik wil wees, is die belangrikste woord vir die meeste mense die woord EK in hoofletters. Dit begin al kleintyd wanneer kinders begin praat. ‘Ek’ en ‘self’ en ‘myne’ is van die eerste woorde wat hulle gebruik en meesal bly dit ons lewens deur so. Baie mense sal dalk heftig beswaar maak teen so 'n stelling, maar soos ek gesê het, kom ons wees eerlik. Die moeder Teresa’s onder ons is maar dun gesaai.
Dit hoef nie so te bly nie. Die woorde liefde, omgee, mededeelsaamheid en nog baie ander kán deel word, nie net van ons woordeskat nie, maar van ons elke dag se lewe. Ons teksvers sê tog dat Christus nou in my leef en veral "leef ek in geloof, die geloof in die Seun van God, wat my liefgehad en Homself vir my oorgegee het.”
As Christus in my leef is daar nie meer plek vir die eie ek nie. Luister hoe mooi stel Paulus dit wanneer hy praat van die lewe wat ek nou liggaamlik leef. Dit is nie 'n verhewe lewe daar iewers nie, maar my elke dag se bestaan, hier en nou. Dit is waar ek in geloof en liefde moet besig wees met dinge soos mededeelsaamheid en omgee vir ander.
Gebed: Vergewe my Here as my eie ek nog so dikwels die oorhand kry in my lewe. Help my om nederig te wees sodat ek by ander mense se lewens betrokke kan raak. Amen