Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Ware liefde is meer as 'n môrewolkie - 21 Julie 2025

Ben Fourie
 
Julle liefde is soos 'n môrewolkie: dit verdwyn so vinnig soos dou … Ek verwag liefde eerder as offers, toewyding aan My eerder as brandoffers. Hosea 6:4b,6, 1983-vertaling
 
Dikwels as ek en my vrou vroegoggend gaan stap, is daar ligte miswolkies in die lug. Sodra dit bietjie warmer word, verdwyn hulle gou-gou. So 'n môrewolkie bring geen reën nie. Israel se lied van berou aan die begin van hierdie hoofstuk is vir God soos 'n môrewolkie, want dit is nie opreg bedoel nie. Die volk het gedink hulle dwaling kan gou-gou reggestel word deur offers, maar offers sonder ware diepgaande berou is net so min werd as ‘n miswolkie in die oggend.
 
God sien deur hulle planne. Hy sien dat die liefde wat hulle aanbied maar min om die lyf het. Die feit dat God sê Hy verkies troue liefde bo offers, is 'n baie groot saak. God het immers self bepaal dat daar offerandes moet wees.
 
In Levitikus gaan die eerste sewe hoofstukke volledig oor die wette rakende die bring van offerandes. Offerandes het ook 'n groot rol gespeel by feesdae. Sê God nou hier dat offerandes nie van veel waarde is nie? Natuurlik nie. Offerandes wat met die regte gesindheid van hart gegee is, het nog steeds 'n groot rol te speel gehad en God het dit nie skielik afgeskaf nie, maar liefde vir Hom is veel belangriker.
 
Liefde vir God gaan altyd gepaard met toewyding. Liefde kan so maklik op baie terreine oppervlakkig wees. Ons sien dit in ons verhoudings met ander mense. Wanneer alles goed gaan, is dit baie makliker om iemand lief te hê as wanneer daar wrywing in die verhouding is.
 
Tog is die toets vir ware liefde juis absolute toewyding veral ook as ons verhouding met 'n lewensmaat, kind, kollega of wie ook al deur diep water gaan. Ons verhouding met God kan ook soms om verskillende redes deur diep water gaan. Dalk die dood van 'n geliefde, ernstige siekte, verlies van werk of die verbrokkeling van 'n verhouding.
 
In so 'n situasie hoef ons nooit te twyfel aan sy liefde vir ons nie. Is ons toewyding en liefde vir Hom egter so opreg dat dit ook nie net 'n môrewolkie is nie, want anders gaan ons self die oorsaak wees dat ons nie sy liefde ervaar nie.
 
Gebed: Here, ek besef dat my liefde dikwels ook soos 'n môrewolkie is wat net hou so lank dit goed gaan met my. Vergewe my asseblief. Amen
 
Previous article: Liefde vra volharding - 22 Julie 2025 Prev Next article: Liefde vir die vyand - 18 Julie 2025 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.