Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Liefde vra volharding - 22 Julie 2025

Ben Fourie
 
Daarom, terwyl ons so 'n groot wolk getuies rondom ons het, laat ons van elke las ontslae raak, van die sonde wat ons so maklik omring, en die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof …  Hebreërs 12:1-2a, 2020-vertaling
 
Liefde vir God en die naaste is nie 'n gemaklike draffie om die atletiekbaan nie. Dit vra volharding.
 
Vroeër jare het ek baie 10 km-wedlope gehardloop en ook die Argus en Herald fietswedrenne gery. Vier keer in my lewe het ek saam met 'n groep vanaf Port Elizabeth na Kaapstad met die fiets gery om vir die Bybelgenootskap geld in te samel. Dit het baie harde werk gevra. Ek is ongelukkig nie geseën met groot fisiese vermoëns nie en hierdie wedlope en fietswedrenne het daarom baie oefening, vroeg opstaan en volharding van my gevra, maar dit was absoluut die moeite werd.
 
Die wedloop van die lewe waarvan die Hebreër skrywer praat, is 'n wedloop waarin liefde die belangrikste rol speel en daarom moet ons elke dag baie hard oefen om lief te hê. Paulus bemoedig vir Timoteus om homself te oefen om godvresend te leef. (1 Timoteus 4:7) Godvresendheid is nie om vir God bang te wees nie, maar juis om Hom lief te hê. Die "Bybel vir almal" vertaal die vers baie mooi met die woorde “Jy moet oefen om God altyd beter te dien.” En watter beter manier is daar om God te dien as om Hom lief te hê met my hele hart en my hele siel en my hele verstand.
 
Soos ons weet hou dit nie hier op nie. Ek kan nie God liefhê en my naaste haat nie. Om God beter te dien beteken dat ek ook my naaste beter moet liefhê, en laat ons nou maar eerlik wees, dit is nie altyd die maklikste ding in die wêreld nie. Dit vra harde werk en oefening en dit vra soms vasbyt. Die skrywer van die brief aan die Hebreërs praat nie verniet van die sonde wat ons so maklik omring nie. In langafstandwedlope is daar nie plek vir ekstra bagasie nie.
 
Ek onthou vandag nog die eerste keer toe ek met 'n fietstoer oor die Du Toitskloofpas gery het. Dit het gestortreën, maar om bo-op die berg uit te kom en na vyf dae en meer as 700 kilometer in die saal, die pragtige Bolandse landskap onder jou te sien, het al die harde werk die moeite werd gemaak.
 
Hou maar aan met liefhê, die beloning is vergesigte op die hemel self.
 
Gebed: Ons kan U maar net elke dag loof en prys dat U dit vir ons moontlik maak om die wedloop met volharding te voltooi, want sonder u groot liefde sou ons langs die pad uitgesak het. Amen
Previous article: Vrug van die Gees: liefde Prev Next article: Ware liefde is meer as 'n môrewolkie - 21 Julie 2025 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.