Voetewas - 28 Julie 2025
Ben Fourie
Toe gooi hy water in die waskom en begin om die voete van die dissipels te was en dit met die linnedoek wat om Hom gebind was, af te droog. Johannes 13:5, 2020-vertaling
Baie jare gelede gaan ek saam met 'n vriend vir 'n langnaweek na hulle plaas in die Noordweste. Sy twee tienersusters was ook die naweek op die plaas. Die eerste aand na ete kom hulle met skotteltjies warm water en begin om hulle pa en broer se voete te was voor bed-toe-gaan tyd. Dit was vroeër jare 'n gebruik in baie boerehuise. Toe hulle na my kant toe mik, het ek gou-gou nee dankie gesê. Ek het darem nie kans gesien dat twee meisiekinders my voete wat, na 'n dag se rondloop op die plaas beslis nie meer skoon was nie, moes was nie.
Snaaks hoe so 'n insident 'n mens jou lewe lank bybly. Ek wou myself en ook vir hulle verleentheid spaar, maar kon tog nie vergeet dat hulle uit gasvryheid wel bereid was om ook my voete te was nie. Hulle gewilligheid om die takie vir 'n amper vreemdeling te verrig, het my herinner aan Jesus wat sy dissipels se voete gewas het.
Jesus het nie 'n oomblik gehuiwer toe Hy nie net een paar voete nie, maar 'n hele klomp op 'n ry af gewas het nie. Stowwerige vuil voete wat 'n dag lank op Palestina se paaie gestap het. Dit was eintlik werk vir 'n slaaf of bediende, maar Hy gee nie om nie, want sê hy vir Petrus: “As Ek jou nie was nie, het jy nie deel aan my nie.”(Johannes 13:8b)
Jesus se liefde strek ver verby 'n paar vuil voete, dit wil my hele menswees reinig van alles wat maak dat ek nie deel aan Hom het nie. Hiervoor gebruik hy nie 'n skotteltjie warm water nie, maar sy kosbare bloed aan die kruis.
Hy doen dit uit liefde, maar verwag iets in ruil. In Johannes13:14 sê Hy wat dit is: “As Ek, julle Here en Leermeester, dan julle voete gewas het, behoort julle ook mekaar se voete te was.”
Gebed: Liewe Jesus, ek is skaam en verleë dat U, die Here en Leermeester, my vuil lewe elke dag moet was. Baie dankie dat U dit so getrou doen. Help my om ook vir my medemens 'n voetewasser te wees. Amen