Het jy my lief? - 25 Julie 2025
Ben Fourie
Toe hulle klaar was met ontbyt, vra Jesus vir Simon Petrus: “Simon, seun van Johannes, het jy my baie lief, meer as hulle? Johannes 21:15a, 2020-vertaling
Mense is dikwels maar redelik ongeneë om jou 'n tweede kans te gee. Ek en my vrou gesels onlangs oor 'n kennis van ons wat 'n misstap begaan het en daardeur 'n verhouding van baie jare soveel skade aangedoen het dat dit net nie weer herstel kon word nie. Wanneer 'n mens voel dat jy 'n ander persoon nie meer kan vertrou nie, ly die verhouding gewoonlik maar skipbreuk.
Tussen Jesus en Petrus was daar ook 'n besondere verhouding. Vir 'n geruime tyd was hulle sekerlik byna daagliks in mekaar se geselskap. Petrus is een van die drie dissipels wat die binnekring gevorm het en as sulks het hy die ondervinding op die berg van verheerliking gedeel. Ook in Getsemane is hy een van die drie wat saam met Jesus gaan wanneer Hy eenkant wil gaan bid. Hy was onteenseglik in 'n leierposisie, hy was die “rots”, die een op wie se belydenis Jesus sy kerk sou bou.
Tog was hy die een wat Jesus se vertroue in hom die meeste sou skend daar in die binnehof by die vuur. Ek ken hom nie, sê Petrus wanneer die diensmeisie hom uitwys as een van Jesus se volgelinge, maar Jesus ken wel nog vir Petrus. “Het jy my baie lief”, vra Jesus vir hom wanneer hulle klaar op die strand hulle ontbyt van vis en brood geniet het. Drie keer vra Jesus dit en al drie keer antwoord Petrus “Ja, Here, U weet dat ek U liefhet.”
Oor God se liefde vir ons bestaan daar geen twyfel nie. Ons vind die bewyse daarvan regdeur die Bybel. Hy gee vir ons, soos vir Petrus, nie net 'n tweede kans nie, maar soveel kanse as wat ons nodig het. Die groot vraag is hoe baie ek vir God liefhet en op watter wyse my liefde vir Hom in die wêreld sigbaar word. Kan mense werklik in my optrede die liefde van God sien?
Gebed: Ons bid dat U ons daarvan sal bewaar om U in ons lewe te verloën. Help ons ook om soos Petrus te sê: "U weet dat ek u liefhet". Amen