Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Somer: Kyk uit, die oes is ryp! - 15 Augustus 2025

Ewald Schmidt
 
Toe Hy die skare sien, het Hy hulle innig jammer gekry, omdat hulle verward en verstrooi was, soos skape sonder 'n herder. Toe sê Hy vir sy dissipels: “Die oes is groot, maar die arbeiders min. Bid daarom die Here van die oes dat Hy arbeiders uitstuur om sy oes in te samel.” Matteus 9:36-38, 2020-vertaling
 
In Israel is die garsoes vroeg ryp, hier rondom einde Maart tot vroeg Mei. Dit is die tyd van die Paasfees. Die koringoes is later ryp, gedurende Mei tot Junie, rondom die Pinksterfees. Die oorspronklike Joodse feeste het die verlossingswerk van die Here, en sy voorsiening in die natuur gevier. Die Paasfees het nuwe betekenis gekry met die bloed van die Offerlam van God wat sou gestort word vir die hele wêreld se verlossing. Die Pinksterfees sou die uitstorting van die Heilige Gees vier, Hy wat met dieselfde krag in gelowiges werk as waarmee Hy Jesus uit die dood opgewek het. Ons Here Jesus het tydens sy aardse bediening so na 'n skare mense gekyk, mense wat “verward en verstrooi” was. Hulle was godsdienstig, hulle was op soek na die waarheid, maar hulle het Jesus nog nie as Verlosser van hulle lewens geken nie.
 
Jesus se dissipels het Hom leer ken as die Seun van God, soos Petrus later sou bely in Matteus 16:16. Jesus is die Herder wat die mensdom nodig het. Die skare het dit nog nie geweet nie, maar Jesus se dissipels het. 
 
Geestelike volwassenheid, wat ons in die somer van ons geloofslewe bereik, laat ons met nuwe oë kyk na die wêreld rondom ons. Ons begin mense met Jesus se oë raak te sien. Hy het verlore mense innig jammer gekry. So jammer dat Hy bereid was om aan die kruis vir elkeen van hulle te sterf. Ons wat in Jesus glo, ons ken Hom as die Here van ons lewens. Ons het die getuienis van die verskil wat Hy in ons lewe kom maak het. Ons kan vertel van die hoop wat in ons lewe, want Jesus leef in ons.
 
Ons kan hierdie boodskap van Jesus se liefde, en sy genade vir verlore mense, nie net vir onsself hou nie. Jesus se woorde was: “die oes is groot.” Dit is die werk van God die Heilige Gees. Ons kan nie mense ryp druk nie. Hy werk in mense se harte, Hy gee die honger en dors om Jesus te ken. Dan bring die Here sulke mense oor ons pad. Ons het die antwoord. Ons ken vir Jesus. Ons kan Hom aan hulle voorstel. Dis ons roeping as kerk. Dit was Jesus se laaste opdrag voor sy hemelvaart: "Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels … " (Matteus 28:19, 1983-vertaling)
 
Die oes is rondom ons. Dis die mense vir wie ons lief is in ons gesinne, by ons werkplekke, waar ons kuier. Ons is dit aan hulle verskuldig om hulle lief te hê, soos wat Jesus vir ons liefhet. Ons moenie skaam wees om te getuig van Jesus se liefde in ons lewens nie. Eendag sê iemand dalk net vir jou dankie dat jy die getroue arbeider was wat Jesus aan hulle voorgestel het! Dit is een van die grootste vreugdes wat 'n kind van God kan beleef.
 
Gebed: Here, ons lewe in so 'n verwarde wêreld op die oomblik. Daar is nou soveel oorlog, haat en geweld aan die gang. Maar U kyk met liefdevolle oë na al hierdie mense, soos skape sonder 'n herder. U roep ons om die verskil te maak in hierdie wêreld. U roep ons om geloof, hoop en liefde uit te leef teenoor elkeen wat ons pad kruis. Help my om vandag 'n getroue arbeider in u landerye te wees, Here Jesus! Amen. 
 
Weens onvoorsiene omstandighede sal ons eers in middel September met hierdie reeks voortgaan. 'n Nuwe reeks begin op Maandag, 18 Augustus.
Previous article: Die volle inhoud van die boodskap - 18 Augustus 2025 Prev Next article: Somer: Groei om al meer soos Jesus te word! - 14 Augustus 2025 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.