Die volle inhoud van die boodskap - 18 Augustus 2025
Ben Fourie
Laat ons dan verder gaan as die eerste beginsels van die boodskap aangaande Christus, en voortgaan na volwassenheid, sonder om weer die fondament te lê van die bekering van dooie werke, van geloof in God, van onderrig oor reinigingsrituele, oplegging van hande, opstanding uit die dood, en van ewige oordeel. Hebreërs 6:1-2, 2020-vertaling
Wat 'n mondvol. Om die waarheid te sê, is die hele brief aan die Hebreërs nogal 'n groot mondvol en die skrywer draai geen doekies om nie. Luister na wat sê hy in Hebreërs 5:11: “Hieroor het ons baie om vir julle te sê wat moeilik is om te verduidelik, aangesien julle traag geword het om te luister”. In die volgende vers beskuldig hy sy lesers daarvan dat hulle nog babas is wat soek na melk terwyl hulle eintlik al vaste kos moet eet.
Ons weet nie wie die skrywer van die brief is nie en ook nie aan wie dit gerig is nie en selfs nie eers of dit as brief bedoel is nie. Dalk moet ons dit liewer sien as 'n algemene skrywe aan die kerk van sy tyd, veral gelowiges wat uit 'n Joodse agtergrond kom. Dit lyk wel asof dit bedoel is vir tweede generasie gelowiges, mense wat al lankal die boodskap aangaande Christus ontvang het en veronderstel is om te weet wat die kernwaarhede van die evangelie behels en beteken.
Ons leef in 'n tydvak amper tweeduisend jaar na hierdie skrywe, en 'n mens kan tereg vra wat moet ek, die leser van 2025 met dit alles doen? Ons teksvers gee vir my 'n aanduiding wanneer dit sê dat ons verder moet gaan as die eerste beginsels van die evangelie.
Die skrywer gebruik 'n mooi voorbeeld van 'n fondament. 'n Fondament is nodig vir die oprig van 'n stewige gebou. Dinge soos bekering, geloof, die opstanding uit die dood en nog baie ander is onontbeerlik, maar as jy oor en oor net die fondament lê, sal daar nooit 'n gebou verrys nie. 'n Gebou het mure, deure, vensters en 'n dak nodig om werklik 'n gebou te wees.
Ons gaan in hierdie reeks kyk na hoe kan ons “verder gaan as die eerste beginsels”, veral ook deur te kyk na die werk van die Heilige Gees in die wêreld.
Gebed: Hemelse Vader, ons bely dat ons dikwels net besig bly met die begin-dinge van ons geloof en nie genoeg tyd daaraan bestee om dieper te delf in die rykheid van die boodskap aangaande Christus nie. Maak ons asseblief meer nuuskierig oor die volle inhoud van die boodskap. Amen