Die Heilige Gees rus ons toe vir dienswerk - 21 Augustus 2025
Ben Fourie
Daar is 'n verskeidenheid genadegawes, maar dit is dieselfde Gees; 1 Korintiërs 12:4, 2020-vertaling
By enige bouery is daar in die span wat die werk doen 'n groot verskeidenheid werkers, mense wat opgelei is vir 'n spesifieke taak. 'n Mens kry die gewone werkers wat baie belangrike werk doen deur slote te grawe en die betonfondamente te gooi. Van hulle werk hang die stabiliteit van die hele gebou af. Daar is geskoolde messelaars wat moet sorg dat die bakstene presies gelê word, anders sal die muur skeef wees en die hele bousel onbruikbaar. Die span wat die pleisterwerk doen sorg vir ’n netjies afgewerkte huis. Dakkappe en dakteëls opsit is 'n gespesialiseerde werk, anders lek die dak met die eerste bui reën. Elkeen wat betrokke is, is nodig om 'n behoorlike huis te bou.
Die wat aan die geestelike huis of liggaam van Christus werk, moet ook opgelei of toegerus word om die werk te kan uitvoer. Die Gees lei ons op deur verskillende soorte gawes aan verskillende mense te gee. Die Bybel noem in 1 Korinthiërs 12:8 en verder gawes soos: 'n woord van wysheid, 'n woord van kennis, dinamiese kragte, profesie, genesing. Ons kan die gawes vergelyk met bouers wat verskillende take uitvoer soos fondamente grawe, messelwerk doen en die dak opsit.
Die belangrikste is nie hoeveel gawes of watter soort gawes ek ontvang nie, die belangrikste is dat die Heilige Gees wil hê dat ek dit wat ek ontvang het, sal gebruik om die liggaam van Christus op aarde te bou. Ons ontvang dus nie die gawes vir eie plesier of eie gewin nie, of om daarmee te spog nie, maar om die kerk van Christus tot voordeel van elke ander gelowige op te bou.
Die huis waaraan ons werk word gebou om vir ons 'n plek te gee waar, “as die lewensstorme woedend om jou slaan”, ons veilig kan woon en voluit vir die Here kan lewe.
Gebed: Baie dankie dat U ons toerus om vir U te werk, maar ook dat U vir ons 'n veilige ruimte skep vanwaar ons die werk in u koninkryk kan doen. Amen