Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Die Heilige Gees word vir ons gegee as Leermeester - 20 Augustus 2025

Ben Fourie
 
Petrus antwoord hulle: "Bekeer julle, en laat elkeen van julle in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van julle sondes gedoop word, en julle sal die Heilige Gees as gawe ontvang." Handelinge 2:38, 2020-vertaling
 
Ons gebruik die beeld van die Heilige Gees as Meesterbouer. As ons wil dink en praat oor die rol wat elke gelowige elke dag in die wêreld moet speel, moet ons werk met die feit dat die Heilige Gees vir hierdie baie besondere doel aan ons gegee is. Wie is die “ons” wat hier ter sprake is? Moet ek iemand baie spesiaal wees wat reeds 'n baie hoë geestelike peil bereik het om die Gees te kan ontvang?
 
Natuurlik moet ek iemand baie spesiaal wees, maar nie in die opsig wat baie mense dit verstaan nie. Hierdie baie spesiaal wees beteken bloot dat ek kind van God moet wees. Wat kan meer spesiaal as dit wees? Op die dag van my kindwording, dit is my bekering, ontvang ek dus die Heilige Gees.
 
Waarom onvang ons die Heilige Gees? Eerstens sodat ek die Here Jesus beter kan leer ken. Die Gees lei ons in die geheimenisse van Jesus in. Jesus word gereeld as Rabbi of Leermeester aangespreek, maar die dissipels het nog baie nodig gehad om heeltemal toegerus te kon wees. Daar was nog baie dinge wat hulle nie verstaan het nie.
 
Selfs na sy opstanding uit die dood vra die dissipels nog 'n vraag wat spreek van hulle onkunde: “Here, gaan U in hierdie tyd die koninkryk vir Israel weer oprig?” (Handelinge 1:6) Op dié terrein is hulle nog heel onkundig. Daarom word die Gees gestuur om hulle verder op te lei, of soos ons dit wil noem, Meesterbouer te wees. Ons het ook nodig dat die Gees ons sal leer om alles aangaande Jesus beter te verstaan.
 
Sonder hierdie volledige “verstaan” van wie Jesus is, sou niemand die boodskap van die evangelie in die wêreld kon indra nie. Wanneer ons Jesus beter verstaan, kan die Gees ons verder toerus.
 
Gebed: Ons kan U nie genoeg dank vir die Heilige Gees wat U vir ons gegee het nie. Help ons asseblief om elke dag na Hom te luister. Amen
 
Next article: Goed toegerus - 19 Augustus 2025 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.