Toets jouself - 9 September 2025
Ben Fourie
Ondersoek julleself of julle in die geloof is; toets julleself. Ken julle julleself dan nie? Besef julle dan nie dat Jesus Christus in julle is nie? Tensy julle die toets nie deurstaan het nie. 2 Korinthiërs 13:5, 2020-vertaling
Die voel soms vir my asof ons deesdae in ons godsdiens so 'n bietjie wegskram van harde feite oor geloof en hoe ons dit moet beoefen. Toe ek eendag vir 'n predikantvriend sê dat 'n boodskap waarna ek geluister het tydens 'n erediens oor die radio goed was, het sy opmerking daaroor my nogal geskok. Hy het toevallig ook die Sondag na die radiodiens geluister en sy mening was dat die preek niks meer was as 'n motiveringspraatjie nie.
Paulus se woorde hier aan die lidmate in Korinthe is reguit en op die man af en beslis geen motiveringspraatjie nie. “Ondersoek julleself of julle in die geloof is; toets julleself.” Die lidmate in die gemeente het allerhande vrae gehad oor Paulus se doen en late, sy prediking en apostelskap. Nou vra Paulus dat hulle dalk ook moet gaan kyk of dit met alles in hulle eie geloofslewe reg is. Ons praat die afgelope ruk oor ons taak as bouers van die liggaam van Christus op aarde. Dit is dalk nou tyd om 'n toets af te lê oor ons geskiktheid vir die werk. Het al die opleiding wat die Heilige Gees vir ons gegee het ons wel bekwaam gemaak om te help bou?
Hoe lyk so 'n toets? Die Bybel gee vir ons 'n riglyn oor hoe so 'n toets behoort te lyk.
Die toets bestaan in werklikheid net uit een vraag en dit is of ek met absolute sekerheid kan sê dat Jesus die middelpunt van my lewe is. Nie net Sondae nie, nie net wanneer ek in 'n krisis beland nie, nie net as ek iets dringend nodig het nie, nie net wanneer ek groot besluite in my lewe moet neem nie, maar elke dag in elke faset van my lewe.
Die toets vra nie dat ek 'n super heilige moet wees nie, net dat Jesus Christus deur sy Gees volkome in beheer van my lewe sal wees.
Gebed: Ons Hemelse Vader, ek bid dat U my elke dag sal wys hoe ek myself moet toets, maar meer nog, hoe om die toets met onderskeiding te slaag. Amen