Hoop op wat ons nie kan sien nie - 10 September 2025
Ben Fourie
Maar as ons hoop op dit wat ons nie sien nie, dan wag ons daarop met volharding. So kom die Gees ons ook in ons swakheid tot hulp, want ons weet nie mooi waarvoor ons behoort te bid nie; maar die Gees tree self vir ons in met versugtinge wat nie verwoord kan word nie. Romeine 8:25-26, 2020-vertaling
Ons wil almal graag hê die lewe moet lekker wees. Niemand sal ons ook kwalik neem nie, dit is tog natuurlik dat ons nie doelbewus sal gaan soek na pyn en lyding nie. Mense wat doelbewus soek na pyn en lyding bestaan wel, maar is dun gesaai. Die gemiddelde mens wil net graag hê dat dit goed sal gaan.
Ongelukkig is ons ervaring dat die lewe nie altyd lekker is nie en dat dit nie altyd goed gaan nie. Die goeie dinge word afgewissel met tye van ongelukkigheid en niemand spring dit vry nie. Siekte en dood, ouderdom en armoede, werkverlies en 'n geliefde wat die spoor byster raak, kan die lewe baie onplesierig maak. In 'n sekere deel van ons land is daar die uitdrukking dat iets 'onlekker' is. Soms is die lewe werklik 'onlekker'.
Hoe werk dit dan? Jesus het tog vir ons gesterf. Het sy dood ons dan nie vrygemaak van al hierdie probleme en bekommernisse nie en het die Heilige Gees dan nie juis gekom om al die slegte dinge van ons weg te hou nie? Jesus hét ons vrygemaak en sonde en dood vir ons gedra. Die Heilige Gees hét gekom om ons te versterk, maar ons leef ongelukkig nog steeds in 'n stukkende wêreld. Die hele skepping sê Romeine 8:21 “hoop om self vrygemaak te word van verslawing aan die verganklikheid.”
Dan kom Paulus met hierdie woorde: “Maar as ons hoop op dit wat ons nie kan sien nie, dan wag ons daarop met volharding.” (Romeine 8:25) Dit is nie so maklik om hier met Paulus saam te stem nie. Ons hele lewe is ingestel op dit wat ons kan sien, dit wat waarneembaar is, maar luister verder “So kom die Gees ons ook in ons swakheid tot hulp”. (Romeine 8:26a) Daar waar ek vasdraai, as ek moet hoop op dit wat ek nie kan vasvat nie en wanneer ek in menslike swakheid ervaar dat die lewe nou nie meer lekker is nie, daar kom die krag van God se Gees in werking.
Bly maar net glo dat daar hoop is verby die punt waar ons kan sien.
Gebed: Soms wil ek verdrink in te veel dinge wat maak dat die lewe nie lekker is nie. Soms is die nuus van ons stukkende wêreld vir my ondraaglik. Here, laat my asseblief elke dag vasklou aan die hoop wat ek nie kan sien nie. Amen