Psalm of vyf: Psalm 139 - 10 Oktober 2025
Charlea Grey
Here, U sien dwarsdeur my, U ken my. Of ek sit en of ek opstaan, U weet dit, U ken my gedagtes nog voordat hulle by my opkom.Psalm 139:1-2, 1983-vertaling
Psalm 139 het spesiale betekenis in my lewe – nie omdat ek die Psalm uit my kop ken nie, nee. Ek ken eintlik net die eerste sin en ek is dankbaar dat dit 'n kort een is.
Terloops, ek is nie eintlik iemand wat uit die Bybel of selfs flieks kan aanhaal nie. Ek ken enkele aanhalings uit die Bybel en dis gewoonlik die bekendste dele wat meeste mense ken. Goed soos Psalm 23 en Johannes 3:16. En ek kan net uit twee flieks enkele aanhalings onthou – "Notting Hill" en "The Devil Wears Prada". Ek is altyd baie beïndruk as mense uit boeke en flieks kan aanhaal.
In elk geval, terug by die punt. Psalm 139 is vir my spesiaal want daar is twee baie mooi Afrikaanse liedere wat oor dié spesiale Psalm geskryf is. "U is altyd daar", wat gesing word deur wyle Janita Claassen en "U ken my", gesing deur Rina Hugo. Albei liedjies is sowat 25 jaar gelede uitgereik op 'n album met die naam "Deel die Woord". (Gaan luister gerus, dis beeldskoon en ek sien dit is beskikbaar op Spotify, Apple Music en ook op YouTube.)
Die Psalm is vir my mooi en spesiaal omdat dit my herinner dat God my menswees só goed ken. As jy God se kind is, omsluit hy jou van alle kante – dit beteken Hy beskerm jou en dra jou, Hy weet wat jou behoeftes en begeertes is. Dit bevestig daardie liefde en kennis wat net 'n ouer vir 'n kind kan hê.
Ek dink dan so hoe my eie ouers sommer net vir my kan kyk en weet as iets pla. Of hoe my ma net “hallo mamma” sal hoor en dan dadelik sal vra: “Wat makeer?” Sy weet onmiddellik as iets fout is, al is ek lankal nie meer 'n klein dogtertjie nie en al woon ek al vir jare nie meer onder hulle dak nie.
Net so weet God waardeur ons gaan, wat ons dink, hoe ons voel en waarheen ons op pad is. Hy ken ons elkeen en is steeds baie lief vir ons.
“Dié wete oorweldig my, dit is te hoog vir my begrip,” skryf Dawid later in die Psalm.(Psalm 139:6) “Surreal but nice,” sê Hugh Grant se karakter in Notting Hill.
En ek dink dit som my gedagtes oor hierdie oorweldigende liefde en kennis van wie ek is, redelik goed op.
Gebed: Here, baie dankie dat U my ken, alles van my af weet en steeds lief is vir my en altyd by my is. Amen.