Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Lesse van ma-wees 2: Niemand se lewe is perfek nie - 13 Oktober 2025

Charlea Grey 

"Jy mag nie 'n ander mens se huis vir jouself wil hê nie. Jy mag nie 'n ander man se vrou vir jouself wil hê nie, ook nie sy slaaf of slavin, sy bees of sy donkie, of enige iets wat aan 'n ander mens behoort nie.” Eksodus 20:17, Bybel vir almal
 
Ek het verlede jaar vir 'n week oor my lesse van ma-wees geskryf. Dit is omdat ek in my ouerskapreis so baie oor God se liefde vir ons leer. Ek leer so baie oor die lewe, en elke nou en dan het ek en my man lang gesprekke oor ons eie grootwordjare. Dis juis omdat die uitdagings van ma- en pa-wees ons met nuwe oë laat kyk na ons eie ouers se besluite van jare terug.
 
Hierdie week wil ek weer stilstaan by die lesse wat ma-wees my geleer het.
 
Ek is nou, soos ek hier skryf, die ma van 'n báie bekkige driejarige. En as als goed gaan, het sy teen die tyd wat jy die stuk lees, 'n klein boetie wat maar net 'n week of twee oud is.
 
Een ding wat ek wel die afgelope paar jaar oor en oor besef het, is dat niemand se lewe perfek is nie.
 
Ek word gedurig op sosialemedia gekonfronteer met die mooi babakamers, die netjiese huise, gebalanseerde etes, nuwe karre, mooi uitrustings, fikse lywe en heerlike vakansies van ander mense. Sommige van daardie mense is vriende, ander is plaaslike bekendes, ander is weer mense wat ek van geen kant af ken of eers herken nie. Dis sommer maar net dinge wat die algoritme vir my opdis weens my lewensfase of 'n webblad wat ek dalk nou die dag besoek het.
 
Maar goeiste, dit is darem maar erg as mens heeltyd vaskyk in prentjies van dinge wat perfek is – veral as jy bitter goed weet dis nie jou realiteit nie.
 
Ek is wel gelukkig genoeg om ook gereeld met ander ma’s te gesels oor hul uitdagings van ma-wees: bekende ma’s en gewone ma’s. En dit het my baie gou laat besef, dinge is nie net rooskleurig nie. Weg van die uitgekiesde foto’s is daar óók tantrums, eindelose onderhandelings oor klere en opruim en TV-tyd. Daar is ook dikwels konflik, konfrontasie, slegte dae, hartseer en deurmekaar huise.
 
Maak nie saak in watter lewensfase jy nou is nie – dit kan altyd voel of ander mense se gras groener is. En dis seker menslik om ander mense se “perfekte” lewens te begeer. Maar ek glo daar is 'n baie goeie rede waarom God sommer vroeg in die Bybel al die ding van begeerte aanspreek. Ek dink nie dit gaan net daaroor dat jaloesie 'n lelike eienskap is nie. Dis nie goed vir ons om na ander se lewens te kyk en dit te begeer nie, nie omdat jy noodwendig weens daardie gevoel gaan optree nie, maar eerder omdat dit jou die goeie dinge in jou eie lewe laat miskyk. En ja, soms kan jy dalk voel iemand anders het als en jy het niks, maar dis meeste van die tyd nie regtig waar nie.
 
Ons het altyd iets om voor dankbaar te wees, ons het elkeen iets in ons lewens wat ander mense graag sou wou hê. Kom ons verruil begeerte vir dankbaarheid.
 
Gebed: Vader, baie dankie vir al die wonderlike dinge wat ek in my lewe het. Help my om opnuut die talle gawes, voorregte en seëninge in my lewe raak te sien. Amen.
 
Previous article: Lesse van ma-wees 2: Watter boompies gee jy water? - 14 Oktober 2025 Prev Next article: Psalm of vyf: Psalm 139 - 10 Oktober 2025 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.