Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Lesse van ma-wees 2: Maak tyd om jou koppie vol te maak - 17 Oktober 2025

Charlea Grey
 
Die Here het ses dae lank die hemel en die aarde gemaak, die see en alles wat daarin is, maar op die sewende dag het Hy nie gewerk nie. Daarom het die Here die Sabbatdag geseën en Hy het dit 'n gewyde dag gemaak. Eksodus 20:11, Bybel vir almal
 
Wanneer ek terugkyk na die dagstukke van die maand so ver, kom ek agter daar is 'n woord wat dikwels hehaal: Oorweldig. Dit is eintlik vir my ontnugterend om te besef dat ek baie duidelik in 'n lewensfase is waar ek gereeld oorweldig voel.
 
Iemand het eenkeer vir my gesê dat een van die lewe se groot uitdagings juis is dat die tyd wat ons die hardste aan ons loopbane werk, presies is wanneer ons jong gesinne het.
 
Nou ja, ek weet ook dat nie almal wat hier lees, jong gesinne het nie. Jy kan dalk daardie chaotiese tyd onthou, maar dis dalk lankal verby. Daar is dalk ander dinge wat jou oorweldig en soms dun gesmeer laat voel.
 
Maak nie saak wat jou omstandighede is nie, ons het almal tyd nodig om ons koppies vol te maak.
 
Met die dat ons gesin binnekort nog 'n baba verwelkom, was die afgelope paar maande voller as vol en wilder as wild. Ons het in 'n stadium elke naweek van een ding na die volgende gejaag en teen Maandag was daar niks van my oor nie. Maar dan is dit tyd vir werk en 'n nuwe week wat sy eie dinge bring en 'n mens gaan net aan.
 
Ek het gou begin besef ek kan nie my gesin help om hul koppies vol te maak as myne gedurig omtrent leeg is nie.
 
God het heel aan die begin al geweet dat ons altyd tyd sal nodig hê vir rus, asemskep en stilword. Ons kan nie net volstoom voortploeter nie. Maak nie saak hoe ambisieus, bedrywig, bekwaam of suksesvol ons is nie. Almal het tyd nodig vir asemskep.
 
Gun jouself en jou geliefdes daardie tyd. Maak tyd vir stilword by God, vir rustig raak, vir saamwees. Selfs God het tyd gemaak vir 'n blaaskans.
 
Gebed: Baie dankie liewe Here dat U ons herinner dat ons ook moet stop, stilword en rus. Help my om my eie batterye by u voete te herlaai, sodat ek die lewe met nuwe lus en energie kan aanpak. Amen.
 
Next article: Lesse van ma-wees 2: Regtig, jy is nooit alleen nie - 16 Oktober 2025 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.