Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Lesse van ma-wees 2: Regtig, jy is nooit alleen nie - 16 Oktober 2025

Charlea Grey 

"Jy moet jou ouers respekteer, dan sal jy lank woon in die land wat jou God die Here vir jou gee. Eksodus 20:12, Bybel vir almal
 
Klein babatjies kom met allerhande uitdagings. Driejariges bring weer hul eie.
 
Ons driejarige is wonderlik. Sy praat mooi en duidelik, ook onophoudelik. Sy is empaties en meeste van die tyd baie meelewend. Sy is avontuurlustig en slim. Ja, ja, ek weet, elke kraai dink sy eier is die witste.
 
Die klein dogtertjie maak helaas ook nog kennis met die wêreld en leer hoe dinge werk. Sy leer nou dat sy nie álles wat sy wil hê, kan kry nie. En dit is nie 'n maklike taak nie. Daardie klein lyfie moet dan met tye baie groot emosies verwerk. Ek verstaan nou hoekom hulle soms drie-jariges as “threenagers” beskryf. Die houding, sterk wil, holderstebolder emosies wat wissel van absolute woede tot diepe selbejammering is als daar. (Ek het selfs al 'n deur gehad wat toeklap?!)
 
'n Speelterapeut het onlangs met my en 'n vriendin gesels oor hoe om die wipwarit van peuters en kleuters se emosies te help bestuur. En dis hier waar die sleutelwoord inkom. Hulp. 'n Driejarige leer nog om te selfreguleer – wanneer hulle oorweldig voel deur hul emosies en uitbarstings het, moet ons daar by hulle wees. Selfs al beteken dit ons sit net by hulle en sê: “Mamma verstaan. Mamma is hier. Mamma weet hierdie en hierdie is nie lekker nie. Mamma verstaan.”
 
Is dit nie maar op 'n manier vir ons ook soms dieselfde nie? Soms is 'n mens kwaad vir God – woedend. Soms voel 'n mens die lewe is onregverdig, moeilik of 'n mens moet hartseer en teleurstelling verwerk. Dalk wil jy ook dan jou hart se deur toeklap en op die mat lê en huil. Dalk wil jy ook soos 'n driejarige vir God skree: "Ek gaan nie meer jou maatjie wees nie!"
 
Weet maar net vandag: God verstaan. God is steeds daar. God weet dit is nie lekker nie. Hy gaan steeds by jou sit.
 
Hy is ons Vader. En onthou, elke kraai dink sy eier is die witste.
 
Gebed: Baie dankie Here, dat U by my is wanneer ek kwaad of onredelik is. Dankie dat U altyd by my bly, maak nie saak waardeur ek gaan nie. Amen.
Previous article: Lesse van ma-wees 2: Maak tyd om jou koppie vol te maak - 17 Oktober 2025 Prev Next article: Lesse van ma-wees 2: Jy is nooit alleen nie - 15 Oktober 2025 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.