Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Dis nooit te laat nie: Om weer te probeer - 31 Oktober 2025

Charlea Grey
 
Die Here het weer met Jona gepraat. Hy het vir Jona gesê: “Jy moet gereedmaak. Jy moet na die groot stad Nineve gaan. Jy moet vir die mense sê wat Ek vir jou gesê het om vir hulle te sê.” Jona 3:1-2, Bybel vir almal
 
Ek het pas my dogtertjie by haar speelskool opgelaai.
 
“Waar is pappa? Is hy by die huis?” vra sy.
 
“Nee, nog nie. Hy werk vandag in die stad,” antwoord ek.
 
“In die stad van Nineve?” vra sy.
 
Ek kon natuurlik nie help om uit te bars van die lag nie.
 
Dié dogtertjie met haar kort krulhare wat dikwels in verskillende rigtings staan en haar groot bruin oë, sing graag die liedjies wat sy by die skool leer. Een hiervan is: Jona was gestuur.
 
Dit beteken ook ek moes in die afgelope paar maande herhaaldelik voor slaaptyd die storie van Jona vir haar lees. Soms vat sy haar Bybel en “lees” dan self die storie.
 
Oor en oor word ek dan herinner aan Jona wat besluit het om sy eie kop te volg en nié na Nineve te gaan nie. Oor en oor dink ek aan die dinge wat hy moes deurmaak voor hy na God geluister het en tog besluit het om te gaan en te doen wat God vra.
 
Jona was nie perfek nie. Jona het foute gemaak. Tog het God hom weer probeer gebruik. Hy het vir Jona nog 'n kans gegee om dit wat hy verbrou het, reg te maak en gehoorsaam te wees.
 
Dis nooit te laat om weer te probeer nie. Dis nooit te laat om van rigting te verander nie. Dis nooit te laat om op te staan, te erken jy het misluk en 'n tweede kans aan te gryp nie. Jy het dalk al meer as een keer misluk, maar dit is nie finaal nie.
 
Elke dag is 'n kans om weer te begin, dit is 'n kans om beter te wees en die regte dinge te doen.
 
Gebed: Vader, baie dankie dat ek elke dag die kans kry om weer te probeer. Dankie dat elke dag 'n nuwe begin kan wees en dat dit nooit te laat is om 'n tweede of derde kans aan te gryp nie. Amen.
 
Next article: Dis nooit te laat nie: Om iets nuut te leer - 30 Oktober 2025 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.