Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Verbonde: Konstant en vrugbaar - 3 November 2025

Louise Gevers

“Ek is die wingerdstok, julle die lote. Wie in My bly en Ek in hom, dra baie vrugte, want sonder My kan julle niks doen nie. Johannes 15:5, 1983-vertaling
 
Om verbind te wees aan ander is 'n essensiële deel van die lewe, van ons eerste ontmoeting by geboorte met ons moeders, en in elke verhouding daarna. Hoe belangrik is dit nie vir ons om die warmte en veiligheid van 'n diepgewortelde, gesonde verbintenis as deel van 'n gesin te beleef en 'n tuiste te hê nie, en om vriende te hê wat ons geliefd en aanvaarbaar laat voel. Hierdie is Godgegewe bande wat ons in staat stel om in ons wêreld te funksioneer.
 
Dit is belangrik om naby die sleutelpersone in ons lewe te wees en die vreugde van saamwees te ken, maar ook om nie ander uit te sluit nie. Waar en hoe ons verbind is, beïnvloed ons sin van wie ons is, asook ons welstand. In elke verbintenis – in die gesin, kerk, skool, klub, span, gemeenskap – het ons 'n rol om te vervul.
 
Sommige verbintenisse is goed en gee kwaliteit aan ons lewe en verhoudings. Onwyse verbintenisse kan egter ons vrede en ons gevoel van vervulling in die wêreld skaad en selfs vernietig. Dit kan ons vervreemd en eensaam laat voel, en dit is nie waarvoor ons gemaak is nie. Diep binne, het elke persoon die behoefte om die Skepper te ken en aan ander mense verbind te wees; om sin te maak van wie hulle is, waar hulle inpas en om die vervulling van ware bande te beleef.
 
Jesus het gekom om hierdie behoefte deur sy liefde te vervul. Alhoewel daar baie teksverse in die Bybel is wat handel oor verbintenis – aan God, wysheid, aan mekaar – wat ons gedurende hierdie maand verder sal ondersoek – is Jesus se beeld van 'n verbintenis in ons teksvers vir vandag, eenvoudig maar tog diepgaande.
 
Hy gebruik die metafoor van 'n wingerdstok om die beeld te skets van 'n dinamiese, vrugbare verhouding wat deur God versorg word. Die wingerdstok en sy lote wys hoe Jesus en sy volgelinge, onder die sorg van God, die boer (Johannes 15:1), met mekaar verbind is en dit beklemtoon hulle eenheid. Die beeld van die welige, groen lote in afwagting van die beloofde vrugte voltooi hierdie prentjie.
 
God is met ons, en ons is intiem deur Jesus aan Hom verbind. Hy kyk nie net van ver af toe nie. As ons aan Hom verbind is, kan ons weet vanwaar ons kom, wat ons doel op hierdie aarde is, en baie vrugte dra.
 
Jesus nooi elke persoon om hulle behoefte om in Hom te bly te erken en om baie vrugte te dra.
 

Gebed: Genadige Vader, help my om te besef hoe naby U deur Jesus aan my is. Help my om in Hom te bly en baie vrugte te dra tot u eer. Amen

Previous article: Verbonde: Hoekom Jesus? - 4 November 2025 Prev Next article: Dis nooit te laat nie: Om weer te probeer - 31 Oktober 2025 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.