Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Verbonde: Hoekom Jesus? - 4 November 2025

Louise Gevers
Voor alles was Hy al daar, en deur Hom bly alles in stand. Kolossense 1:17, 1983-vertaling
 
Gister het ons nagedink oor die eenheid tussen Jesus en sy dissipels, en hoe God se aktiewe versorging en deur Jesus te ken en in Hom te bly, die wingerdstok baie vrugte dra.
 
Toe ek 'n klein dogtertjie was, was ek gefassineer deur die idee van God – wie Hy was, waar Hy was en hoe ek meer oor Hom kon leer. Van dit wat aan my vertel is, het ek geweet dat Hy belangrik was want Hy was in beheer van die hele wêreld. Hy het in die lug gewoon – ongelooflik – en Hy het selfs 'n leerskare engele gehad om Hom te help met alles wat Hy moes doen.
 
God het definitief in ons belanggestel en Hy het geluister wanneer ek elke aand my kinderlike gebedjie tot Hom bid en Hom as liewe Jesus aanspreek. Hy het geweet wanneer ons soet of stout was, en ek het geweet dat ek soet wou wees om Hom gelukkig te maak. Ek het egter nie die opwindende reis om Hom te ontdek voorsien nie, en hoe Hy my deur die Bybel en baie verskillende ervarings in my lewe, sou leer nie. Met elke lewensdraai het Hy al hoe meer werklik vir my geword.
 
Wanneer ek nou terugdink aan daardie voorskoolse tyd, die Sondagskool en my eerste Bybel met illustrasies wat ek van my peetma ontvang het, besef ek baie van my vroeë indrukke van God is deur Jesus wat na God gewys het, gevorm. Kerstyd en Jesus se geboorte, 'n hemelse engelekoor, sterre en diere in 'n stal, was alles vir 'n klein dogtertjie moontlik om te begryp en haar oor te verwonder.
 
In een wonderlike aksie het God Hom aan sy skepping verbind deur as 'n mense na die aarde te kom.
 
Jesus, "die beeld van God, van God wat self nie gesien kan word nie" (Kolossense 1:15) en in wie "God besluit [het] om met sy volle wese in Hom te woon" (Kolossense 1:19), maak dit moontlik om God te ken. Wanneer ons onsself vir Jesus oopstel, leer ons deur sy gesprek met die Jode dat "[Hy] en die Vader is een" [Johannes 10:30) en aan Filippus sê Hy: "Wie My sien, sien die Vader." (Johannes 14:9b)
 
Soms kan sommige beskrywing van God in die Ou Testament Hom ver laat voorkom, te heilig, te magtig om Hom te nader, byvoorbeeld: "Wie in die hemel kan met die Here vergelyk word? Wie onder die hemelwesens is soos die Here?" (Psalm 89:7) Ons vind ook nie altyd maklik die teksverse wat ons van sy liefde en genade verseker nie, byvoorbeeld "Ek het jou nog altyd liefgehad, daarom het Ek jou met geduld verdra." (Jeremia 31:3b)
 
Jesus verdryf dit en Hy oorbrug hierdie gaping. Hy, wat van die begin by God was, het gekom om sy lewe vir die sondige seuns en dogters van Adam neer te lê en dit vir ons moontlik te maak om volkome verlos te word.
 
Hoekom Jesus?
 
Hy, alleen, was waardig.
 
Gebed: Here, dankie vir die wonder van u liefde, vir u nederigheid en vir die offer wat U namens ons gebring het, deur "die gestalte van 'n slaaf aan te neem" (Filippense 2:7) sodat ons God kan sien. Amen
 
Previous article: Verbonde: 'n Goddelike ontmoeting - 5 November 2025 Prev Next article: Verbonde: Konstant en vrugbaar - 3 November 2025 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.