Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Verbonde: Waarheid teenoor misleiding - 10 November 2025

Louise Gevers
 
Vir ons is die stryd immers nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van hierdie duisternis, teen die bose geeste in die hemelruim. Efesiërs 6:12, 1983-vertaling
 
Gister, in die tuin, het ek 'n stryd met 'n doringagtige wilderoos gehad wat in my afwesigheid begin groei het. Dié plant was so pragtig groen en lewendig dat ek met die eerste opslag amper oortuig was dit is 'n gesonde roos wat uiteindelik pragtige rose sou dra as ek dit teen die heining sou oplei. By nadere ondersoek het ek egter besef dat dit in die gesonde roosplante verstrengel was en besig was om hulle te verdring. Dié plant se kragtige stam het oral gekrul en gekronkel, selfs om die groter struike.
 
Soos ek begin het om te snoei en skoon te maak, het ek gou besef dit gaan 'n geveg wees. Hierdie plant het skerp dorings en stekels aan die stam en blare wat meedoënloos deur my handskoene gesteek en aan my klere gehaak het. Dit het pynlike steke en skrape tot gevolg gehad het. Maar ek het geseëvier.
 
Is dit nie hoe ons stryd teen die sonde ook is nie? Ons kom voortdurend in kontak met dinge wat skadeloos voorkom, tog misleidend is, maar ons verwerp dit nie. Laat ons dit toe om in ons lewe te groei, kan dit ons verstrengel, skade aandoen, uiteindelik ons wil versmoor en ons slegs as 'n skaduwee van vorige self agterlaat. Soos die gewone roosboom gaan ons nie dood nie, maar dra slegs klein, siek blomme en blare wat gou geel word en verwelk – alles omdat die indringerplant al die lig en water gesteel het.
 
Dieselfde gebeur wanneer ons rebelleer teen dit wat ons weet reg is. Ons laat die dief toe om ons gedagtes binne te dring, en verwerp dan die wysheid van die woord van God. Ons ag onsself bo ander, volg ons eie pad en doen net wat ons wil.
 
Beide gevalle, of ons nou mislei is en verstrengel geraak het, of aktief gekies het om die verkeerde te doen, ons sal gou besef dit is groter as onsself en daar is, behalwe deur die genade van God, nie 'n maklike manier om te ontsnap nie. God sal egter by ons wees wanneer ons teen die vyand veg, maar ons moet die wapenrusting aantrek – net soos ek die snoeiskêr moes opneem – om te kan wen.
 
Paulus het genoeg geweet van hierdie stryd om die Efesiërs te kon leer dat "vir ons is die stryd immers nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van hierdie duisternis, teen die bose geeste in die hemelruim."
 
Elke persoon het 'n keuse: om in die lig van die waarheid of in die donkerte van misleiding te leef. Maar vir diegene wat die vryheid van die waarheid in Christus ken, sê die psalmdigter: "Die Here is naby almal wat Hom aanroep, almal wat Hom in waarheid aanroep." (Psalm 145:18)
 
Kom ons gee gehoor aan Paulus se opdrag aan die Efesiërs om in die waarheid te leef: "Staan dan vas, deur julle heupe te omgord met die waarheid, julle te bedek met die borsplaat van geregtigheid." (Efesiërs 6:14)
 
Gebed: Here Jesus, open my oë vir die vyand se lokvalle in my lewe en help my om altyd u waarheid te kies. Amen
 
Previous article: Verbonde: Prioriteite – hemel voor mag - 11 November 2025 Prev Next article: Verbonde aan Jesus: Waarheid en vryheid - 7 November 2025 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.