Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Verbonde: Prioriteite – hemel voor mag - 11 November 2025

Louise Gevers
 
"En tog moet julle nie bly wees net omdat die geeste hulle aan julle onderwerp nie, maar wees veral bly omdat julle name in die hemel opgeskryf is.” Luke 10:20, 1983-vertaling
 
Vreugde, opgewondenheid, trots – hoe hou ons mense tog nie daarvan om goed te vaar nie! Daar is net iets aan prestasies – groot of klein – wat, wanneer ons 'n taak goed uitgevoer het, veral iets nuut of uitdagend, aan ons 'n gevoel van oorwinning gee. Dit moedig ons aan om voort te gaan en selfs beter te doen. Daagliks, in die normale gang van die lewe bereik ons baie, maar hier gaan ons besin oor daardie uitsonderlike oomblikke wat ons lewe verryk en verander.
 
Ons moet prestasies egter in perspektief sien en nie permanent met ons koppe in die wolke rondloop nie. Om enige sukses eg te hou, moet dit getemper word deur nederigheid en 'n realistiese herinnering aan die harde werk en aandag wat dit geverg het.
 
Ons moet ook onthou dat daar baie belangriker dinge in die lewe is as net daardie oomblik van sukses. Soms is dit wanneer ons iets betekenisvol bereik dat ons vergeet wie ons is en waar ons vandaan kom. Ons kry grootkop en verloor uit die oog hoe en hoekom ons in die posisie is, en wat God se doel daarmee is.
 
Dit was dus normaal vir die twee en sewentig om vol blydskap terug te keer want hulle het toe Jesus hulle gestuur het gehoorsaam gegaan, die werk gedoen, en groot geestelike krag ervaar – iets wat hulle nog nooit voorheen ondervind het nie – en dit was heel waarskynlik vir hulle steeds moeilik om te glo wat hulle bereik het.
 
Jesus bevestig wat hulle gedoen het: “Ek het die Satan soos 'n weerligstraal uit die hemel sien val", dat Hy aan hulle gesag gegee het "om die vyand met al sy geweld te oorwin" en Hy jubel dit uit dat God hierdie dinge aan eenvoudiges bekend gemaak het eerder as aan die "slim en geleerde mense". (Lees Lukas 10:18-19,21) Jesus waarsku hulle egter om te onthou dat hulle "name in die hemel opgeskryf is" en om daaroor bly te wees want dit is baie kosbaarder as selfs die belangrikste werk wat Hy hulle gee om te doen. Op 'n ander plek vra Jesus: "Wat sal dit 'n mens help as hy die hele wêreld as wins verkry maar sy lewe verloor, of wat sal 'n mens gee in ruil vir sy lewe?" (Matteus 16:26)
 
Dit is hierdie verbondenheid aan Jesus wat ons lewe en werk, alles vir sy doel, in perspektief plaas. Wanneer ons ons oë op Hom gerig hou en onthou dat ons is waar ons is omdat Hy ons 'n gestuur het, sal ons nie trots of arrogant wees nie, maar aan Hom al die eer gee en werklik bly wees.
 
Gebed: Liewe Vader, dankie dat deur Jesus Christus ons Verlosser, ons name in die hemel opgeskryf is en dat ons ons kan verheug omdat dit belangriker is as enigiets anders in die wêreld. Gee dat ek sal leef om U deur u krag te dien. In u Naam alleen. Amen
Next article: Verbonde: Waarheid teenoor misleiding - 10 November 2025 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.