Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Verbonde: Bekwaam en toegewyd - 17 November 2025

Louise Gevers
 
Hierdie Esra het opgetrek uit Babilonië. Hy was self 'n skrifgeleerde, kundig in die Wet van Moses wat die Here, die God van Israel, gegee het. Die koning het alles wat hy gevra het aan hom gegee, omdat die Here, sy God, se hand oor hom was. Esra 7:6, 2020-vertaling
 
Dit is baie bevredigend wanneer al die stukkies van 'n legkaart finaal in plek val en die prentjie voltooi is – veral met daardie uitdagende legkaarte wat nie 'n prentjie as leidraad saamgee nie. Ek was op 'n keer besig met so een toe my nefies kom kuier het. Met hulle vars, jong oë, het hulle sleutelstukke raakgesien wat ek nie het nie al was die stukke altyd daar. Kort voor lank het die "groter prentjie" duidelik geword en so is uithouvermoë met 'n aha-oomblik beloon.
 
God se "groter prentjie" van verlossing het en duideliker geword met Jesus se koms na die aarde. Dit het die vele profesieë vervul wat na sy koms verwys het, en deur sy leringe het Hy sy persoon en teenwoordigheid van die begin af bevestig. Dit is so 'n plesier om, wanneer ons die Bybel lees, hierdie aha-oomblikke te ontdek – wanneer 'n mens skielik besef hoe mense met mekaar verbind is en die betekenis daarvan, of sien hoe 'n profesie vervul is. Dit alles verbreed ons begrip en laat ons geloof groei.
 
Esra, waarna vandag se teksvers verwys en wat van vele ander mense van daardie tyd onderskei kon word, was een so 'n skakel. Sy voorgeslagte het so ver terug as tot by Aäron, Moses se broer, gestrek, maar dit was nie die enigste rede hoekom "die Here, sy God, se hand oor hom was" nie. Nie net was hy 'n skrifgeleerde wat God se Wet onderrig het nie, hy het dit ook geglo, wat tot gevolg gehad het dat hy 'n lewe van integriteit gelei het. Hy is deur die koning wie se guns hy gewen het, uitgesonder – " Die koning het alles wat hy gevra het aan hom gegee" – en hy het 'n sleutelrol in die vervulling van God se belofte aan die ballinge gespeel.
 
Die nou baie bekende belofte wat God deur Jeremia aan Israel gemaak het, "... planne van voorspoed, en nie teenspoed nie, om aan [hulle] 'n toekoms en hoop te gee" (Jeremia 29:11) het letterlik daartoe gelei dat hulle ontvoerders hulle teruggestuur het om die tempel in Jerusalem te gaan herbou, en saam met hulle was offerande wat hulle self voorsien het, asook die kosbare tempelvoorwerpe wat sewentig jaar tevore saam met die ballinge weggevoer is. Wat 'n aha-oomblik!
 
Alhoewel in ballingskap, het Esra voortgegaan om God getrou in daardie vreemde heidenland te dien en met sy terugkeer na Jerusalem, het hy onwrikbaar en getrou aangehou om hom toe te wy aan die herstel van die aanbidding van God onder die volk. In 'n brief verwys koning Artasasta na Esra as "die priester, kenner van die wet van die God van die hemel." (Esra 7:12)
 
Esra se integriteit het onaangeraak gebly en, ongeag wat in sy lewe gebeur het, is sy band met God nooit verbreek nie. Dit is dus geen verrassing dat hy aan God alleen al die eer gegee het vir wat Hy "... in die koning se hart gelê het ... en wat aan my sy troue liefde bewys het voor die koning en sy raadgewers en al die magtige amptenare van die koning ..." (Esra 7:27-28) Watter verskil ten goede kan 'n mens met integriteit nie maak wanneer hulle God eerbiedig nie.
 
Ons hoef nie Esra te wees om vir God se goeie doel gebruik te word nie. Elkeen van ons is 'n kosbare stukkie in God se groter prentjie, geskape om 'n verskil te maak en gereed te wees vir wanneer Hy ons roep. Jesus het gesê: "... waarlik gelukkig is hulle wat die woord van God hoor en dit onderhou.” (Lukas 11:28)
 
Gebed: Here, help my om u woord te hoor en te onderhou, en u seën te ontvang. Amen
Next article: Verbonde: Verbind tot geluk - 14 November 2025 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.