Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Verbonde: Groot God, groot geloof - 18 November 2025

Louise Gevers
 
Ag, Here, luister tog na die gebed van u dienaar en na die gebed van u dienaars, hulle vir wie dit 'n vreugde is om u Naam te eer. Laat my tog voorspoedig wees met wat ek vandag wil doen. Laat hierdie man my simpatiek gesind wees.” Ek was die koning se skinker.  Nehemia 1:11, 1983-vertaling
 
Nehemia, soos Esra, was 'n merkwaardige dienaar van God, wie se integriteit, ondanks sy omstandighede, behoue gebly het. Hy het nie weggedraai van God nie, maar het daar in Babel onwrikbaar voortgegaan om te bid en God te vertrou. Nehemia het die koning so beïndruk en laasgenoemde het hom, 'n verslane vyand, so vertrou dat hy hom sy skinker gemaak het – wat, soos dit geblyk het, ook God se doel gedien het.
 
Daar was geen manier dat Nehemia in ballingskap in Babel, kon weet wat sedert sy vertrek in Jerusalem gebeur het of hoe dit met diegene wat die ballingskap oorleef het, gesteld was nie. Op 'n dag het hy egter 'n boodskap ontvang dat die mense "beleef daar in die provinsie Juda groot ellende en smaad. Die muur van Jerusalem lê om, en die stadspoorte is verbrand.” (Nehemia 1:3)
 
Geskok het Nehemia reguit na "die God van die hemel" gegaan, "gehuil en dae lank getreur. [Hy] het gevas en tot die God van die hemel gebid." (Nehemia 1:4)
 
Met 'n diep geloof dat God steeds vir Jerusalem omgee, het Nehemia eers God se grootheid en mag erken, en toe die sonde van die Israeliete bely – insluitend sy eie en die van sy familie. Hy het erken dat hulle verstrooi was omdat hulle ontrou was aan die wette van God. Nietemin, het Nehemia God daaraan herinner dat hulle 'n volk is wat Hy verlos het, en aan wie Hy beloof het om hulle terug te bring na die plek wat Hy gekies het om "[sy] Naam daar te laat woon". (Nehemia 1:9)
 
Terwyl hy gebid het, het God dit op sy hart gelê om terug te keer na Jerusalem en sy mense te gaan help om die poorte te herstel en die mure te herbou. Nehemia vra die Here in die woorde van ons teksvers dat "hierdie man [hom] simpatiek gesind [moet] wees." Stel jou voor die geloof wat nodig was vir hierdie groot versoek. Dit mag dalk ons perspektief verander oor wat ons van God kan vra. God het geensins sy getroue dienaar teleurgestel nie. Nehemia het selfs 'n skietgebed opgestuur en om wysheid gebid voordat hy sy versoek tot die koning kon rig. (Nehemia 2:4b)
 
Nehemia se nederigheid is beloon, nie net was die koning hom simaptiek gesind en het hom toesetemming gegee om sy mense te gaan help nie, maar soos Esra, het God hom veel meer gegee.
 
Onderweg na Jerusalem het hy verkeie koninklike briewe by hom gehad om vrye deurgang te verseker en magtiging vir hout van die staatsbos om die poorte, die muur en sy persoonlike woning te kon bou. Asof dit nie genoeg was nie, het "die koning offisiere en ruiters met [Nehemia] saamgestuur." (Nehemia 2:9) Hieroor het hy gesê: "My God het sy goeie hand oor my gehou ..." (Nehemia 2:8)
 
Nehemia se eenvoudige geloof het God in staat gestel om hom op 'n betekenisvolle, hoogs onverwagte, maar tog lonende manier, in Jerusalem te gebruik. Dit gee vir ons 'n prentjie van 'n vrugbare loot in aksie, 'n grafiese herinnering aan die belangrikheid van Jesus se woorde toe Hy sy volgelinge beloof het: "As julle in My bly en my woorde in julle, vra dan net wat julle wil hê, en julle sal dit kry." (Johannes 15:7)
 
Gebed: Genadige Vader, "U alleen is Here! U het die hemel gemaak, die hoogste hemel en sy hele leërmag, die aarde en alles daarop, die oseane en alles daarin. U laat hulle almal lewe; die hemelse leërmag buig voor U." (Nehemia 9:6) Skenk aan my eenvoudige geloof sodat ek waar ek my ook al bevind, U onwrikbaar kan dien. Amen
Previous article: Verbonde: Hoop te midde van hartseer - 19 November 2025 Prev Next article: Verbonde: Bekwaam en toegewyd - 17 November 2025 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.