Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Jesus tussen mense: God by ons - 1 Desember 2025

Andrea Sieberhagen
 
"Die maagd sal swanger word en 'n seun in die wêreld bring, en hulle sal Hom Immanuel noem. Die naam beteken God by ons." Matteus 1:23, 1983-vertaling
 
Desembermaand. Kersversierings oral, vrugtekoeke op winkelrakke en Kersliedere in winkelsentrums. Alles bedoel om ons te herinner dat Kersfees om die draai is. Hoewel die doel is om mense te oortuig om dalk meer geld te spandeer op Kersinkopies as wat hulle wou, is die feestelikheid tog gepas. Ons mag maar die geboorte van Jesus met vreugde vier, so lank ons onthou waaroor die blydskap eintlik gaan.
 
Toe Jesus gebore is in 'n stal in Betlehem het hy mens geword in ons wêreld. In nederigheid. Daar in die stal het die sterrekykers uit die ooste Hom gevind: “Ons het sy ster sien opkom en ons het gekom om aan Hom hulde te bewys.” (Matteus 2:2)
 
So het Jesus grootgeword en as mens tussen al die ander mense beweeg.
 
God by ons.
 
En dis die gerusstellende wete, dat God toe tussen mense was en vandag nog by ons is. Hy was ware mens en het die mense om Hom konstant met deernis behandel.
 
'n Voorbeeld vir almal van ons. 'n Voorbeeld van nederigheid en 'n voorbeeld van sagmoedigheid. Dit sien ons telkens in die manier waarop Hy met die mense om Hom omgaan en die keuses wat Hy maak.
 
Kom ons volg sy voorbeeld na in hierdie Kersseisoen. Kom ons leef nederig en met empatie. Kom ons vier sy geboorte met vreugde terwyl ons ook aan Hom hulde bring soos wat dit hoort. 

Gebed: Hemelse Vader, skenk aan ons nederigheid en empatie in hierdie Kersfeestyd en maak ons bewus daarvan dat U altyd by ons is. Amen

Next article: Verbonde: Bly verbonde – wees gelukkig - 28 November 2025 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.