Jesus tussen mense: Nederigheid - 2 Desember 2025
Andrea Sieberhagen
"Sê vir Sion: Kyk jou Koning kom na jou toe; Hy is nederig en Hy ry op ’n donkie, op die vul van 'n pakdier." Matteus 21:5, 1983-vertaling
Die seun van die mens het immers gekom om te soek en te red wat verlore is. Lukas 19:10. 1983-vertaling
Ek dink hier aan twee verhale. Jesus wat op 'n esel Jerusalem binne ry en Jesus wat vir Saggeus bo in die wildevyeboom kry.
As ek hierdie twee verhale lees, kom ek diep onder die indruk van die feit dat Jesus terwyl Hy op aarde was tussen regte mense beweeg het. Hier sien ons steeds dat die voorbeeld van nederigheid, wat by die krip begin het, voortgesit word. Hy ry Jerusalem binne op 'n doodgewone donkie en gaan eet saam met Saggeus.
Saggeus was 'n tollenaar. Toe Jesus vir Saggeus sê, “Ek moet vandag in jou huis tuis gaan,” (Lukas 19:5) het die mense om hulle, se wenkbroue gelig. Hulle het beswaar aangeteken en gesê: “Hy gaan by 'n sondige man tuis!” (Lukas 19:7) Jesus steur hom egter nie aan die opinies van die mense rondom Hom nie en juis dit veroorsaak 'n verandering in Saggeus se lewe.
Niemand van ons is te gering of te onbelangrik om te deel in sy groot liefde en genade nie. Almal wat in Hom glo, kan aanspraak maak op die feit dat ons koningskinders is en daarom hoef ons nooit, nooit minderwaardig te voel nie. Status of inkomste is onbelangrik. Die nuwe hoop wat Hy bring is ook vir jou bedoel!
Al wat jy moet doen is om dit aan te gryp, sodat daar ook by jou 'n positiewe verandering in jou lewe kan plaasvind.
Gebed: Hemelse Vader, herinner my elke dag dat ek in u oë belangrik en spesiaal is want ek is u kind! Amen