Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Weet waar om krag te soek: God se almagtigheid - 11 Desember 2025

Andrea Sieberhagen
 
Aan Hom wat deur sy krag wat in ons werk magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink … Efesiërs 3:20, 1983-vertaling
 
In ons menslikheid is ons dikwels baie geneig om God en sy almagtigheid heeltemal te onderskat! Miskien omdat ons in ons eie onvermoë vaskyk en met aardse maatstawe wil meet. In Efesiërs 3:20 staan daar dat God magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink. Oneindig meer! Dit beteken daar is absoluut geen beperkings nie, maar in ons beperkte visie kan ons nie die implikasie heeltemal begryp nie en daarom is ons ook heel dikwels “versigtig” wanneer ons bid om nie “te veel” te vra nie!
 
Is dit nie tyd dat ons aanspraak maak op God se volle magtigheid nie? Is dit nie tyd dat ons erkenning gee aan sy krag wat elke dag in ons werk nie? As ons dit maar net wil aangryp en onsself oopstel daarvoor kan ons dalk die volle seën daarvan in ons lewens ervaar. As ons in stille afhanklikheid, bewus van hoe nietig en sondig ons is, voor Hom gaan staan, diep onder die indruk van sy almagtigheid – dan kan ons onsself onderwerp aan Hom en in die proses nederig aanspraak maak op die wonderdade waartoe Hy in staat is.
 
Skielik is ons vry van menslike beperkings. Skielik kan ons opgewonde raak oor groter seën wat op ons wag. God sal ons eie verwagtings oortref. Sy seën strek dikwels veel wyer as wat ons menslike verstand kan visualiseer.
 
Hou vas daaraan!
 
Gebed:
Voor u almag staan ons stil.
Ons onvermoë , ons sondigheid
laat ons sidder voor u wil.
Laat ons klein word
voor u almagtigheid.
 
Previous article: Weet waar om krag te soek: Aan God die eer - 12 Desember 2025 Prev Next article: Weet waar om krag te soek: Die volheid van God - 10 Desember 2025 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.