Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Tot sy eer: Laat God toe om God te wees - 26 Februarie 2026

Lauren Appolis
 
Dink aan wat vroeër gebeur het, lank gelede; Ek is God, daar is geen ander nie; Ek is God, daar is niemand soos Ek nie. Ek kondig vantevore aan wat later sal kom, lank tevore al wat nog nie gebeur het nie. Ek sê wat Ek besluit het en dit gebeur, wat Ek wil, doen Ek.   Jesaja 46:9-10, 1983-vertaling
 
God is Here van alles – dit is eenvoudig 'n feit. Indien ons hierdie waarheid as die vertrek- middel- en eindpunt vir elke lewenseisoen beskou, kan dit baie uitputting voorkom.
 
Daar was 'n tyd in my lewe toe ek van voorneme was om presies te verstaan hoe gebed werk, en hoekom dit belangrik is. Indien God God is – soewerein en almagtig – watter verskil kan ons gebede maak? In daardie tyd vol vrae het ek iets onthou wat my katkisasieonderwyser op 'n keer gesê het: "Terwyl God altyd oor ons waak, doen Hy dit as 'n volkome heer. Hy wag om ingenooi te word; Hy dwing nie deure oop nie." Daardie beeld het my baie jare bygebly. CS Lewis beaam hierdie waarheid wanneer hy skryf: "I pray because I cannot help myself … It doesn’t change God. It changes me.”
 
Hoe dikwels vermoei ons onsself nie deur probleme te probeer oplos, in behoeftes te voorsien en in ons eie krag alles te probeer bymekaar hou nie – net om moeg te word wanneer niks blyk te verander nie? Die uitnodiging is egter heel eenvoudig: laat God toe om God te wees.
 
Ons dien 'n God wat die see oopgekloof het, berge beweeg en water in wyn verander het. Wie van ons kan dit doen? Is dit nie soms trots wat ons verhoed om volkome oor te gee en Hom ten volle in ons omstandighede binne te nooi nie? Die eer behoort nog altyd aan Hom – laat Hom die verhoog oorneem.
 
Hierdie is nie 'n oproep tot 'n passiewe lewe nie. Dit is eerder 'n uitnodiging om in ooreenstemming met God se wil te leef. God het die plan. Hy ken die begin en die einde. Wanneer ons probeer om sonder Hom te leef, plaas ons onsself bo sy wysheid en gaan onvermydelik tekort skiet.
 
Indien daar iets is waaraan jy te stewig vashou, wil ek jou uinooi om dit te laat gaan. Verwelkom God deur gebed in daardie spasie. Hy wag – liefdevol – om sy majesteit aan jou te openbaar.
 
Laat God toe om God te wees en laat ons van sy grootheid getuig.
 
Aan Hom behoort die heerlikheid tot in ewigheid!
 
Gebed: Here, vergewe my asseblief al die kere wat ek probeer om sonder U te leef. Help my om dit waaraan ek vasklou oor te gee en U as Heer van my lewe volkome te vertrou. Amen
 
Next article: Tot sy eer: Ambassadeurs vir Christus - 25 Februarie 2026 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.