Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Tot sy eer: Hardloop die wedloop! - 27 Februarie 2026

Lauren Appolis
 
Terwyl ons dan so 'n groot skare geloofsgetuies rondom ons het, laat ons elke las van ons afgooi, ook die sonde wat ons so maklik verstrik, en laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof.  (Hebreërs 12 1-2a, 1983-vertaling)
 
My skool het onlangs deelgeneem aan 'n interskole waar daar in beide sport en sang teen buurskole gekompeteer is. Daar is iets roerends aan die trots, eenheid en onwrikbare ondersteuning wat leerders by atletiekgeleenthede vir mekaar toon, terwyl hulle saam na oorwinning streef.
 
Ek was aan diens op die paviljoen saam met die res van ons leerders wat deur sang gewedywer het vir die beste gees en om ons atlete aan te moedig. In die middel van een lied het iets merkwaardig gebeur. Sonder waarskuwing het die singery gestop en is vervang met 'n gejuig en luide applous. Ietwat verskrik en verward het ek omgedraai na die baan om te sien wat hierdie reaksie uitgelok het.
 
Een van ons naellopers, op pad na die eindstreep was besig om 'n atleet van 'n ander skool in te haal. Met die geraas en aanmoediging van die paviljoen se kant was dit asof 'n vuur in hom aangesteek is. Met hernieude krag het hy vorentoe gestorm en eerste die wenstreep oorgesteek. Die skare het uitgebars van vreugde en trots.
 
Ek het vir 'n oomblik stil geword en gewonder hoe dit vir hom moes voel – om te hoor hoe sy skool hom aanmoedig. Die klank was oorverdowend, passievol, elektries. 'n Mens kon die effek sien: die aanmoediging wat vasberadenheid laat posvat, hernieude krag na die eindstreep.
 
Medekind van God, ons is ook besig om 'n wedren na 'n hemelse doelwit te hardloop.
 
Soos daardie atleet, is daar oomblikke waar ons ons meer moet inspan, soms ver bo wat vir ons moontlik voel. Oomblikke wanneer die eindstreep ver lyk en moedeloosheid dreig om ons pas te vertraag. Maar anders as 'n aardse wedloop is die uitkoms van ons wedloop nie onseker nie. As ons ons oë gevestig hou op Jesus, is ons verseker van 'n oorwinning. (Lees Romeine 8:37)
 
Liewe vriende, kom laat ons die wedren met volharding hardloop. God is bly oor elke tree wat ons in die geloof gee. Hy sien elke stryd, elke hindernis, elke moeë asemteug – en Hy is trots op ons.
 
Terwyl ons voortbeur, getrou aan die lewenspad wat vir ons uitgestippel is, doen ons dit met die belofte dat ons eendag daardie kosbare woorde sal hoor: "Mooi so, goeie en getroue dienskneg."
 
So, hou aan hardloop. Beur voort. Die ganse hemele moedig jou aan, al die pad tot by die eindstreep.
 
Gebed: Hemelse Vader, dankie dat U my gekies het om hierdie wedren tot u eer te hardloop. Gee my die krag om te kan volhard, en help my om die oog gevestig te hou op Jesus. Gee dat ek op so 'n manier sal hardloop dat U daardeur verheerlik word. In Jesus se Naam. Amen
 
Previous article: Maand van Spreuke - 3 Maart 2026 Prev Next article: Tot sy eer: Laat God toe om God te wees - 26 Februarie 2026 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.