Maand van Spreuke - 13 Maart 2026
Ruanne van Zyl
... dan sal jy 'n toekoms hê en jou hoop sal jou nie ontneem word nie. Spreuke 23:18, 1983-vertaling
Die Here praat direk met ons wanneer ons moeg, moedeloos of onseker oor die toekoms voel. Soms lyk dit of ons pogings niks oplewer nie, of asof ons drome al hoe verder weg dryf. Tog verklaar God hier met sekerheid: daar ís 'n toekoms.
Ons hoop is nie gebaseer op gunstige omstandighede nie, maar op 'n getroue God wat agter die skerms werk. Selfs wanneer ons nie vooruitgang sien nie, beteken dit nie Hy is stil of afwesig nie. God werk dikwels op maniere wat ons eers later sal verstaan.
Hoop gee ons die krag om aan te hou saai, aan te hou bid en aan te hou glo. Sonder hoop gee 'n mens maklik op. Met hoop kan ons deur moeilike seisoene stap met die vertroue dat hierdie hoofstuk nie die einde van die storie is nie.
God se tydsberekening is perfek. Wat nou vertraag voel, kan deel wees van sy voorbereiding. Hy sien die einde van die pad en weet presies hoe om ons daar te bring.
Wanneer ons hoop in God gevestig is, kan teleurstellings ons nie vernietig nie. Ons mag hartseer wees, maar ons is nie hopeloos nie. Ons kyk vorentoe met die wete dat Hy reeds daar is.
Gebed: Here, dankie dat my toekoms veilig in u hande is. Wanneer ek moed verloor, herinner my aan u beloftes. Help my om vas te hou aan hoop wat in U geanker is. Amen.