Dankbaar vir regverdigmaking: Ek is vrygespreek! - 10 April 2026
Ewald Schmidt
God het ons dan nou vrygespreek deurdat ons glo. Daarom is daar nou vrede tussen ons en God deur ons Here Jesus Christus. Romeine 5:1, 1983-vertaling
As predikant het ek dikwels te doen met mense se vrese en vrae, veral naby die einde van hulle lewens. Mense wonder: “Het ek regtig goed genoeg geleef?” of “Sal God my vergewe as ek weer daardie fout maak?” Dit is hoe die menslike hart dikwels werk: ons meet ons vrede met God aan hoe ons voel of aan wat ons vir Hom probeer doen. Maar Paulus breek daardie ou manier van dink af. Hy sê: ons vrede met God is nie 'n gevoel nie, dit is 'n posisie – 'n nuwe status wat God self aan ons gegee het deur Christus.
Hierdie posisie kry die naam regverdigmaking. Ek was skuldig, maar Jesus maak my verhouding met God reg. Jesus het my straf gedra, daarom is ek nie meer onder die aanklag van die wet nie; ek is vrygespreek. Ek het dit nie verdien deur die regte dinge te doen nie. Dis God se genade, dit is wat Jesus vir my gedoen het. My verhouding met God is herstel, nie omdat ek myself beter gemaak het nie, maar omdat Hy my nuut kom maak het.
Om dankbaar te wees vir die Here se vryspraak is om te verstaan dat ek nie hoef te werk vir God se liefde nie. Ek hoef nie in vrees te lewe vir sy oordeel nie. Ek mag vrylik na Hom toe kom, selfs in my gebrokenheid, omdat Christus vir my gekom het. Die vrede wat ek ontvang, hang nie af van my emosie nie, dit is ‘n nuwe status wat ek het in God se oë. Die vrees van skuld en die spanning van onsekerheid is vervang deur die sekerheid van sy genade.
Hierdie vrede beïnvloed hoe ek vandag leef. Ek kan liefhê sonder vrees. Ek kan dien sonder skuldgevoelens. Ek kan myself aanvaar soos ek in Christus aanvaar is. Dankbaarheid vir regverdigmaking is dus nie net 'n kopkennis van 'n waarheid nie – dit is 'n hartsverandering wat my vrymaak van vrees en my vul met vrede.
Dit herinner my ook dat die evangelie prakties is: dit maak my nie net skoon in God se oog nie, dit verander ook my lewe. Ek hoef nie meer onder die gewig van skuld gebuk te gaan nie, maar mag opstaan en leef as vrygespreekte kind van God.
Gebed: Here Jesus, dankie dat ek deur die geloof vrygespreek en regverdig gemaak is. Dankie dat ek in vrede met U mag leef, nie gebaseer op my prestasies nie, maar op u werk in my lewe. Help my om vandag in hierdie vrede te wandel en te glo dat U my altyd as u kind sien. Amen.