Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Dankbaar vir die inwoning van die Heilige Gees - 13 April 2026

Ewald Schmidt
 
Ek sal die Vader vra, en Hy sal vir julle 'n ander Voorspraak stuur om vir ewig by julle te wees, naamlik die Gees van die waarheid. Johannes 14:16-17a, 1983-vertaling
 
Of besef julle nie dat julle liggaam 'n tempel van die Heilige Gees is nie? Julle het die Heilige Gees, wat in julle woon, van God ontvang, en julle behoort nie aan julleself nie. 1 Korintiërs 6:19, 1983-vertaling
 
Afskeid is altyd moeilik. Die dissipels het geweet Jesus gaan weg. Hulle harte was ontsteld. Wat sou van hulle word? Hoe sou hulle sonder Hom klaarkom? Maar juis in daardie oomblikke van onsekerheid gee Jesus 'n belofte wat vandag nog ons harte dra: “Ek sal julle nie as weeskinders agterlaat nie.”
 
Hy belowe die Heilige Gees.
 
Jesus het sy aardse bediening voltooi en opgevaar hemel toe. In sy plek het Hy vir ons die Heilige Gees gestuur om ons te lei en te help. Die Gees is nie bloot 'n krag of 'n onpersoonlike invloed nie. Hy is God self – persoonlik, naby, teenwoordig. Waar Jesus se fisiese teenwoordigheid beperk was tot een plek op 'n slag, woon sy Gees nou in elke gelowige.
 
Paulus skryf dat ons liggame tempels van die Heilige Gees is. In die Ou Testament was die tempel die plek waar God simbolies tussen sy mense gewoon het. Nou woon Hy nie meer in 'n gebou van klip nie, maar in mense van vlees en bloed. Dit is 'n verstommende waarheid: die heilige God maak sy woning in my hart.
 
Wat beteken dit prakties? Dit beteken ek is nooit alleen nie. In my vreugde is Hy daar. In my versoekings is Hy daar om te waarsku en te versterk. In my swakheid is Hy daar om my te dra. Hy lei my in die waarheid, oortuig my van sonde, herinner my aan Jesus se woorde en bring die vrug van Christus se karakter in my lewe voort.
 
Dankbaarheid vir die inwoning van die Gees bring 'n diep troos. Ek hoef nie op my eie krag die Christelike lewe te probeer leef nie. God vra nie van my om iets te wees wat ek self moet produseer nie; Hy gee sy Gees om dit in my te werk. Heiligmaking is nie selfverbetering nie, maar Gees-werking.
 
Dit bring ook verantwoordelikheid. As my liggaam 'n tempel is, wil ek leef op 'n manier wat Hom eer. Nie uit wettiese vrees nie, maar uit liefde en dankbaarheid. Ek behoort nie meer aan myself nie; ek is gekoop, Hy woon in my.
 
Jesus het sy dissipels nie as weeskinders agtergelaat nie – en Hy laat my ook nie alleen nie. Sy teenwoordigheid is nader aan my as my asem.
 
Gebed: Heilige Gees, dankie dat U in my woon. Dankie dat ek nie alleen hoef te leef nie. Lei my vandag in die waarheid, versterk my in versoeking en vorm my om meer soos Jesus te wees. Amen.
 
Previous article: Dankbaar vir 'n nuwe hart - 14 April 2026 Prev Next article: Dankbaar vir regverdigmaking: Ek is vrygespreek! - 10 April 2026 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.