Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Staan op vir Jesus - 14 Mei 2026

Imogen Campbell 

Laat die middag het daar 'n ryk man aangekom. Dit was Josef van Arimatea, wat self ook 'n volgeling van Jesus was. Hy het na Pilatus toe gegaan en die liggaam van Jesus gevra, en Pilatus het beveel dat dit vir hom gegee moet word. Josef het die liggaam geneem en dit in skoon linne toegedraai en dit daarna neergelê in sy eie nuwe graf wat hy in die rots uitgekap het. Hy het 'n groot klip voor die ingang van die graf gerol en weggegaan.  Matteus 27:57-60, 1983-vertaling
 
Aan die begin en einde van Jesus se aardse lewe was daar 'n man met die naam Josef. Beide is geroep om God in moeilike omstandighede te gehoorsaam. Een was selfs bestem om die verantwoordelikheid te dra om die God-mens groot te maak.
 
Na Jesus se dood, tree Josef van Arimatea na vore om iets merkwaardigs te doen. As 'n lid van die Sanhedrin, was Josef welbekend in die gemeenskap, welgesteld en gerespekteerd. Dit was egter alles verniet, aangesien sy geloof in Jesus hom in stryd geplaas het met die oortuigings van die godsdienstige establishment van die dag.
 
Daardie dag, toe die Sanhedrin uiteindelik verantwoordelik was dat Jesus ter dood veroordeel is, het die konflik in Josef se hart en verstand tot 'n punt gekom. Hy het geweet dat Jesus onskuldig was. Daardie ure van duisternis, gevolg deur 'n aardbewing en rotse wat uitmekaar bars in Jerusalem, sou hom nie onaangeraak gelaat het nie.
 
Soos so baie ander gelowiges wat deur God geroep is, het Josef se oortuiging hom ook tot aksie gedryf. God se leiding en aanmoediging tot op daardie stadium het waarskynlik begin sin maak. Soos Mordegai eeue tevore vir Ester gesê het, kon dit wees dat Josef ook begin het om te verstaan dat daardie dag die tyd was vir hom om volgens sy oortuiging te handel.
 
Ek staan in verwondering dat God dit reeds op sy hart geplaas het om daardie graf voor te berei. Ek dink as dit ek was, sou ek met angs en bewing gewonder het of my laaste dag op hande is. Tog was hy gehoorsaam.
 
Dapper het hy die boeie van geheimhouding afgewerp en te midde van intense teëstand die liggaam van Jesus gaan vra. Hy het die Seun van God in sy tydelike graf gaan neerlê waar Hy drie dae sou deurbring, 'n teken van sy Messiasskap.
 
Slegs Josef het die voorreg gehad om die Messias ter ruste te lê – niemand sal God ooit weer begrawe nie. Ek wonder of hy die opgestane Jesus gesien het voordat Hy na die hemel opgevaar het. Of het Josef net stilweg uitgesien na sy ewige rus wanneer en waar hy die opgestane Christus weer sou sien?
 
Ek is geneig om die dapperheid van Josef van Arimatea mis te kyk. Ek vergeet soms dat hy nie geweet het hoe sake sou uitdraai nie, maar tog was hy gehoorsaam. Is jy gehoorsaam selfs wanneer dinge nie sin maak nie?
 
Gebed: Vader, dankie dat U ons toelaat om uit die skaduwees van ons angs te kom en dapper na vore te tree. Dankie dat U 'n ewige doel met met ons lewens het. Amen
 
Previous article: Loop op water - 15 Mei 2026 Prev Next article: Gee 'n tree, maar neem geen standpunt in nie - 13 Mei 2026 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.