Loop op water - 15 Mei 2026
Imogen Campbell
As een van julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid, en Hy sal dit aan hom gee, want God gee aan almal sonder voorbehoud en sonder verwyt. Maar 'n mens moet gelowig bid en nie twyfel nie, want iemand wat twyfel, is soos 'n brander in die see wat deur die wind aangejaag en heen en weer gedryf word. So 'n mens wat altyd aan die twyfel is en onbestendig is in al sy doen en late, moet nie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie. Jakobus 1:5-8, 1983-vertaling
Slegs twee mense in die geskiedenis het ooit die fisies onmoontlike gedoen – suksesvol op water geloop. Een van hulle was Jesus en die ander sy intense dissipel. Een was rotsvas en die ander een wispelturig en impulsief.
In Psalm 77:20 sê die psalmis oor God: "Deur die see loop u pad, u weg deur massas water, maar u spore was onherkenbaar." (2020-vertaling) Dit herinner 'n mens aan die manier wat God die Rietsee in twee gedeel het om die Israeliete te red toe hulle deur die Egiptenare agtervolg is.
In "Jesus te same" skryf Charles Edward Jefferson, “Look down across the ages and see the great men, how they are swayed and tossed by the winds and storms; but there above them all rises this man of Galilee like some majestic mountain.” [Kyk terug oor die eeue en sien al die belangrike mense, hoe hulle deur die winde en storms rondgeslinger is; maar daar bo hulle almal verrys hierdie man van Galilea, soos 'n majestueuse berg. – vrye vertaling] Soos ek gesê het, rotsvas!
Aan die anderkant, is die enigste ander man wat op water geloop het bekend vir sy impulsiwiteit. Deur die voorsienigheid, het baie van Petrus se ontmoetings met Jesus in die water of aan die waterkant plaasgevind waar daar baie herinneringe gemaak is. Hy is langs die See van Galilea geroep om 'n dissipel te word, en toe Jesus op 'n keer in sy vissersboot was, het 'n wonderbaarlike vangs Petrus, in die teenwoordigheid van die God-mens, van sy sonde oortuig.
Toe, in een van die merkwaardigste weergawes, soos opgeteken in Matteurs 14:22-23, sluit Petrus by Jesus aan op die water. Ek dink die grootsheid van hierdie gebeure word egter oorskadu deur Jesus se woorde toe Petrus begin sink het: “Kleingelowige, waarom het jy begin twyfel?” Petrus se fokus het weg van Jesus af beweeg, en al wat hy kon sien was die wind wat hulle boot vir ure rondgewaai het.
Die gebeure illustreer vandag se teks uit Jakobus baie mooi. Dit is duidelik dat ons bestendigheid van ons fokus afhang. Wanneer ons twyfel, steel ons probleme die vaste fokus wat ons op God moet hê. Met die gevolg, ons word soos branders – onbestendig in al ons doen en late. Stres en angs is gewoonlik die gevolg, terwyl kalm nadenke, innerlike vrede en logiese besluitneming ons ontglip.
Ek voer dikwels 'n stryd met "die sterk wind", wat van jou? Wat sal dit neem om eerder ons oë op die Rots gerig te hou, vas in ons geloof en verseker dat Hy ons sal vang, maak nie saak wat nie?
Gebed: Here, die nag op die see toe Petrus gered moes word, was U reg daar om hom te help. Help ons om nooit te vergeet hoe 'n groot en wonderlike Verlosser ons het nie. Amen