Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Van uitstel kom afstel - 15 Junie 2026

Ben Fourie
 
Nog 'n bietjie slaap, nog 'n bietjie sluimer, nog 'n bietjie handevou en bly lê, en daar oorval die armoede jou soos 'n rower, daar oorrompel die gebrek jou soos 'n inbreker.  Spreuke 6:10-11, 1983-vertaling
 
'n Paar van ons wat saam op skool was, het enkele jare gelede 'n WhatsApp-groep begin. Ons stuur vir mekaar boodskappe en gelukwense en sommer snaakse stories. Een van die groep stuur onlangs iets oor 'n groep wat baie geneig is om goed uit te stel. Hulle het meer as 'n jaar gelede 'n ondersteuningsgroep vir uitstellers gestig. Ongelukkig het hulle tot op hede nog elke byeenkoms wat beplan is, uitgestel.
 
Die stukkie humor het my lekker laat lag, maar ook diep laat dink en mettertyd weer by vandag se vers uit Spreuke gebring. Die vers praat oor werklikhede van die lewe en vermaan ons om nie in ons werk of studie te laat slap lê nie. Luiheid op hierdie gebied maak dat ons later finansieel swaar kry.
 
Toe dink ek verder en besef dat dit ook op sosiale en geestelike terrein baie waar is. Nog 'n bietjie slaap en nog 'n bietjie sluimer kan maak dat ons ook op menslike en geestelike gebied al meer uitstel en later is jy ook geestelik en sosiaal brandarm.
 
Dit raak al ons verhoudings, of dit ons lewensmaat, kind, kollega, vriend, die bedelaar of wie ook al is. Verlore geleenthede word ongelukkig nooit weer ingehaal nie. Daar waar ek geslaap of selfs net gesluimer het en nagelaat het om goed te doen, liefde uit die hart te gee of hulp te verleen, is dit eintlik ekself wat die meeste verloor en geestelik verarm.
 
Gelukkig sluimer en slaap God nooit. Hy troos my wanneer ek 'n groot verlies ly en is by my as ek bang is. Hy antwoord my as ek na Hom roep wanneer ek in die nood is en vergewe my wanneer ek sonde doen. Hy stel nooit sy genade uit nie.
 
Gebed: Hemelse Vader, vergewe my waar ek al baie maal gesluimer en geslaap het waar ek eintlik hulp moes verleen. Amen
Next article: Alles behoort aan God - 12 Junie 2026 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.