Lasdraers - 17 Junie 2026
Ben Fourie
"Kom na my toe almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. ... My juk is sag en my las is lig." Matteus 11:28,30, 1983-vertaling
Baasverteller Jan Spies vertel 'n storie oor 'n boer wat met 'n rydonkie veld toe is om 'n springbok te gaan jag. Hy het twee gekry, op die donkie gelaai en begin aanstap huis toe. Op 'n stadium skrik die donkie vir iets en daar trek hy. Die boer het hom eers die volgende middag weer gevang en die twee bokke van sy rug af gehaal.
Toe hulle die donkie loslaat, weet hy nie hoe om te loop nie: “Hy tel sy pote hóóg op; dit lyk of hy in die stap besig is om te leer trippel.” Dan raak die boer 'n groot waarheid kwyt. “As ons skielik op 'n goeie dag onner die gewig van al die laste moet uitkom, sal ons soos darie donkie van voor af moet leer loop. Die lewe sal totaal vreemd wees.”
Ons is almal lasdraers. Soms ligte, ander kere weer baie swaar laste. Baie van die laste is dinge wat ons op onsself laai. Ander het ons geen beheer oor nie, dit kom lê net op ons. Sonde waarvan ons maar net nie ontslae kan raak nie is 'n bitter swaar las. Van die grootste en swaarste laste is dikwels ons trots wat nie ons nietigheid voor God kan aanvaar en verwerk nie. Ons wil self in beheer wees, self ons saligheid verwerf. Wat 'n las.
Wanneer ons uiteindelik onsself volledig aan God oorgee en Hy die laste help dra, is die ervaring so oorweldigend dat ons meesal ook op geestelike terrein van vooraf moet leer loop. Hierdie “leer om nuut te loop”, is 'n opwindende pad saam met God, want sy juk is sag en sy las is lig.
Gebed: Help my om te besef ek hoef nie met 'n swaar las deur die lewe voort te strompel nie. U wil sien dat ek ligvoets sonder laste sal voortgaan. Daarvoor kan ek U nooit genoeg dank nie. Amen