Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Laat die Gees beheer oorneem - 26 Junie 2026

Ben Fourie 

Wanneer Hy kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei …  Johannes 16:13a, 1983-vertaling
 
Ferdinand Deist vertel in sy boek "Die Pomporrel Konsert" 'n pragtige storie van 'n dominee wat in die ou dae preke voorberei het vir die tien aande se bidure tydens Pinkstertyd. Hy het die eerste twee aande gepreek, maar toe daar geleentheid vir gebed was, het amper niemand gebid nie. Hy vat toe 'n ouderling saam na sy studeerkamer as getuie dat hy die preke voorberei het en sê: “Kyk, Oom, g’n mens bid nie. Hier’s g’n Pinkster in die gemeente nie. Die fout lê by daai preke.”
 
Daarmee vat hy die oorblywende agt preke en gooi hulle in die kaggelvuur en sê dat die res van die Pinkster nou die Here se bekommernis is, want hy het sy bes gedoen, maar dit was nie goed genoeg vir die Here nie. Daardie aand lees hy net 'n stukkie uit Genesis oor die Gees wat op die waters gesweef het, en gee geleentheid vir gebed. Toe begin die mense bid, soms sommer so twee-twee gelyktydig en hulle kan net nie weer ophou nie.
 
Na ek die storie gelees het, het ek al dikwels gewonder wat die Here soms van al ons prekery en pratery dink. Hoeveel van wat ons oor godsdiens te sê het, is ons eie idees oor wie God is en wat God doen en hoe ons dink Hy behoort op te tree.
 
Ons teksvers sê tog baie duidelik dat die Gees van God self vir ons in die hele waarheid sal lei, maar ons wil so dikwels hê sy waarheid moet by ons planne inpas. Die dominee van die storie was baie eerlik met homself deur te besef dat ten spyte van sy harde werk, dit nie was wat die Here vir die gemeente wou hê nie.
 
Dit is nodig dat ons ook ons ore sal spits en fyn sal luister na wat die Gees van ons verlang, sodat ons nie ons waarhede nie, maar die waarheid van wie God is in die wêreld sal kan indra.
 
Gebed: Maak my ore oop Gees van God, dat ek mooi kan hoor wat U vir my wil sê. Amen
Next article: Wie dien ons - 25 Junie 2026 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.