Wie dien ons - 25 Junie 2026
Ben Fourie
Moet jou nie deur die kwaad laat oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie. Romeine 12:21, 1983-vertaling
“Snaaks genoeg”, sê dr Johns toe hulle die wandeling hervat, “Satan is self onliggaamlik. Hy het 'n mens nodig om sigbaar te word.” Hierdie woorde uit Etienne Leroux se boek "Een vir Azazel" het my gedagtes baie lank besig gehou.
Die idee van Satan was nog altyd vir my een van die moeilikste konsepte. Nie omdat ek nie glo dat die bose bestaan nie, maar omdat dit so 'n vreemde begrip is. God wat vir my net die beste wil hê, is vir my wonderlik, maar die begrip van 'n mag of krag wat vir my net die slegste wil hê, bly ontstellend.
Alhoewel God mense gebruik om goeie dinge in die wêreld te doen, het Hy nie regtig mense nodig nie. Hy kán sy goedheid oor die wêreld uitstort waar en wanneer Hhy wil sonder ons hulp. Dit wat sleg en boos is in die wêreld kan egter net gebeur as mense hulleself beskikbaar stel. Die kwaad kan eers sigbaar word as daar 'n mens beskikbaar is om kwaad te doen.
Wanneer ons dink aan die idee van boosheid, dink ons so dikwels aan groot en ernstige dinge soos oorlog en misdaad of bose figure uit die geskiedenis, maar ons vergeet dat daar soveel boosheid skuil in alledaagse dinge. In die gedig "Ballade van die Bose" sê NP van Wyk Louw: “Die vele meen hul ken my gesig, maar ek skuil te glansryk, te na aan die lig.” Dinge wat ons dalk nie as sleg en verkeerd sien nie, kan 'n ander se lewe vernietig.
Paulus skryf aan die gemeente in Rome, dat hulle (ons) fyn moet trap om nie toe te laat dat dit wat boos is in ons lewens die botoon voer nie en dat ons die kwaad deur die goeie moet oorwin. Hoe meer goed ek doen, hoe minder tyd en plek het ek om kwaad te doen.
Gebed: Ons bely Here dat die kwaad dikwels nog die oorhand in ons lewens kry. Help ons tog om elke dag hard te probeer om die kwaad deur die goeie te oorwin. Amen