Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Lewend vir God: Vergifnis maak vry - 27 Augustus 2026

Louise Gevers
 
Hy het toe opgestaan en na sy vader gegaan. Hy was nog ver weg, toe het sy vader hom al gesien. Hy het hom innig jammer gekry, na hom gehardloop, hom omhels en hom gesoen.  Lukas 15:20, 2020-vertaling
 
Op 'n dag toe ek by my kar kom, sien ek 'n papiertjie onder die ruitveër. Ek het gedink dit was 'n advertensieblaadjie en was op die punt om dit op te frommel toe ek besef dit is 'n verkeersboete vir R1 000 vir "parkering op 'n plek wat die verkeer belemmer". Ek het rondgekyk in ongeloof: daar was nie "Geen parkering"-tekens nie, geen geel of rooi strepe nie – en boonop parkeer ek reeds vir jare feitlik elke dag op daardie plek. Alhoewel ek geweet het ek het niks verkeerd gedoen nie, het ek vasgevang en hulpeloos gevoel omdat dit werklik nie sin gemaak het nie. Niemand hou daarvan om vals beskuldig te word nie, om met onopgeloste sake en emosies gelaat te word terwyl jy vir 'n onbekende uitkoms wag.
 
Miskien het die vader van die verlore seun 'n bietjie so gevoel toe die seun voor die bestemde tyd vir sy erfporsie gevra het, na 'n ver land gegaan en dit daar verkwis het. Die pa was sekerlik verward oor die versoek en hartseer oor sy seun se vertrek – hoe sou hy vaar, wanneer sal hy hom weer sien?
 
Maar hierdie vader het sy seun innig liefgehad en het bly uitkyk en wag op sy tuiskoms asof die seun niks verkeerd gedoen het nie. Wat hier ontvou is een van die mooiste prentjies van vergifnis in die Bybel. Slegs die terugkeer van sy seun was genoeg om die vader met deernis te vul – soveel so dat hy hom tegemoet gehardloop en hom omhels het, nog voordat hy sy seun se belydenis aangehoor het, uitsluitlik gelei deur 'n gesindheid van liefde en genade.
 
Dit is ware vergifnis – die soort wat uit God se hart kom. Dit is die soort wat Jesus aan die kruis uitgespreek het oor diegene wat Hom gekruisig het. Dit is die soort wat Hy aan die verlamde man gegee het toe Hy gesê het: “Kind, jou sondes word vergewe.” (Markus 2:5) Dit is die soort wat "sewentig maal sewe keer" vergewe, soos Jesus vir Petrus gesê het (Matteus 18:22) – en dit is die daaglikse houding van die hart soos vir ons geïllustreer word deur Stefanus wat "vol van die Heilige Gees" was toe hy deur die lede van die Joodse Raad gestenig is. (Handelinge 7:54-60)
 
Paulus sê hoe hierdie vergifnis moet wees: "Wees goedgesind teenoor mekaar, met innige meelewing, terwyl julle mekaar vergewe, soos God in Christus julle ook vergewe het." (Efesiërs 4:32) Ons vergewe nie omdat dit verdien word nie of omdat dit wat verkeerd gedoen is bevredigend opgelos is nie – ons vergewe omdat ons eerste volkome vergewe is deur 'n Vader wat ons tegemoet gehardloop het toe ons nog ver aangekom het.
 
Kan ons minder doen?
 
Gebed: Vader, dankie dat U my tegemoet gehardloop het toe ek nog ver aangekom het, nog voordat ek die woorde gevind het om my sonde te bely. Leer my om so volkome te vergeef soos U my vergewe het – soos U nie wag vir 'n oplossing nie maar keer op keer in liefde na my toe hardloop. Amen
 
NS: My boete is uiteindelik tersyde gestel – 'n klein aardse oplossing vir 'n frustrerende situasie.
Next article: Lewend vir God: Reg met Hom - 26 Augustus 2026 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.