Lewend vir God: Leef in die lig - 28 Augustus 2026
Louise Gevers
Maar as ons in die lig lewe soos Hy in die lig is, het ons met mekaar deel aan dieselfde gemeenskap en reinig die bloed van Jesus, sy Seun, ons van elke sonde. 1 Johannes 1:7, 1983-vertaling
Om in die lig te leef, is iets radikaals. Dit is nie 'n besluit wat net een keer geneem word nie, maar daagliks – 'n gewilligheid om gesien, ondersoek en verander te word deur God wat self lig is, en "daar is geen duisternis in Hom nie". (1 Johannes 1:5)
Leef in die lig begin wanneer ons onsself deur God se oë sien eerder as deur ons eie. Wanneer ons aan onsself oorgelaat word, is ons geneig om ons lewens te meet deur dit te vergelyk met ander, met ons eie vorige foute, of met watter standaard ook al op daardie oomblik die meeste vergifnis bied. God se lig ontbloot egter dit waarvoor ons verskonings soek of nie raaksien nie. Dit vra van ons om onsself eerlik te sien soos Hy ons sien.
Daardie soort van raaksien, vereis ook luister.
Ons leer om God se stil stem te herken – nie altyd dramaties nie, maar voortdurend – wat deur die Skrif, deur die aansporing van die Gees, deur die Skepping en deur mense met ons praat. Leef in die lig beteken dat ons van God se teenwoordigheid bewus word, wat soms sag, eerder as kragtig, tot ons kom, en maklik gemis kan word deur 'n hart wat te besig is of as daar te veel geraas om ons is om dit op te merk.
Wanneer ons nader aan sy lig beweeg, word ons onvermydelik bewus van ons sonde en ons behoefte aan Hom. Hierdie oortuiging word in genade deur die Heilige Gees in ons bewerkstellig en wys ons wanneer ons van Hom weggedryf het tot in die skaduwees. Hy doen dit sodat ons kan terugkeer want "as ons beweer dat ons aan Hom deel het, en ons lewe in die duisternis, lieg ons en handel ons nie volgens die waarheid nie." (1 Johannes 1:6)
So word leef in die lig 'n lewe van gebed – in volkome oorgawe aan Hom soek ons sy weë eerder as ons eie, en keer op keer vra ons sy vergifnis waar ons tekortskiet. In 1 Johannes 1:7 lees ons die belofte dat as ons in die lig lewe sal die bloed van Jesus ons van elke sonde reinig. Met daardie reiniging word ons herstel en sal ons die vrede en die blydskap van sy verlossing beleef.
Leef in die lig is blydskap en nie 'n las nie. Dit is die natuurlike ritme van 'n lewe wat naby God geleef word – lewend vir Hom – eerlik, oplettend, berouvol en vry. Die alternatief is om in die duisternis te leef, ons eie laste te dra, weg te kruip vir die waarheid en onsself verder te isoleer van God wat reeds wag om ons te vergewe.
Gebed: Almagtige God, gee dat ek vandag in u lig sal leef – eerlik voor u aangesig en met aandag na u stem sal luister. Gee dat ek my sonde sal bely. Reinig my, herstel my en vul my weer met die blydskap van u verlossing, deur Jesus Christus my Verlosser. Amen