God is alomteenwoordig - 7 September 2026
Ben Fourie
Klim ek op na die hemel, is U daar, gaan lê ek in die doderyk, is U ook daar. Vlieg ek na die ooste, of gaan woon ek in die verre weste, ook daar lei u hand my, hou u regterhand my vas. Psalm 139: 8-10, 1983-vertaling
Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid. Johannes 1 vers 14: “
Al is dit vir ons as mense maar bra moeilik om werklik 'n begrip te hê van die almag van God, of die feit dat Hy alwetend is, is die idee van God se alomteenwoordigheid amper nog moeiliker om te verstaan. Die woord kom nie eers in die Bybel voor nie. Ons lei die gedagte maar af van sekere teksverse.
My ou woordeboek sê: “oral op dieselfde tyd aanwesig” en Christelike Media se webwerf definieer dit as: “Afstand en plek het vir Hom geen betekenis nie. Hy is oral, Hy is die God wat elke ding vul, maar nie deur hulle ingesluit word nie.” 'n Ander webwerf, genaamd GotQuestions, sê: “om teenwoordig te wees in alle vorme van tyd en ruimte”.
Wat sou al hierdie definisies en gedagtes my in my geloof help? Al die dinge is vir my belangrik omdat dit my opnuut aan die dink sit oor die grootheid van God, maar as ons na die twee teksverse van vandag kyk, sien ons dat dit oor meer gaan. Al verstaan ek nie heeltemal hoe dit werk nie, is dit uiters belangrik om dit te glo soos wat die Bybel dit vir ons vertel.
Die digter van hierdie psalm beskryf vir my God se alomteenwoordigheid nie net in beeldryke taal nie, maar ook as iets wat vir my sin maak. God se alomteenwoordigheid is nie net hier en nou nie, maar strek oor grense heen wat nog vir ons verborge is, dinge soos hemel en doderyk. Tog omsluit dit ook die hier en nou van plek en ruimte: “vlieg ek na die ooste of gaan woon ek in die verre weste”. En dan kom die eintlike groot “definisie” wat my lewe persoonlik raak: “ook daar lei u hand my, hou u regterhand my vas”. Hemel of doderyk, ooste of weste, God is baie naby aan my.
Hoe naby, sou ek kon vra. Op dié vraag gee Johannes die antwoord wanneer hy skryf: “Die Woord het mens geword en onder ons kom woon ... vol genade en waarheid”.
Gebed: Baie dankie Here dat ons ook soos in die lied kan sê: "God is hier teenwoordig, laat ons biddend nader." Dankie dat U reeds teenwoordig was nog voor die ontstaan van tyd en ruimte, maar tog ook teenwoordig is hier waar ek nou is. Amen