Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

God is alwys - 8 September 2026

Ben Fourie
 
"Wysheid kom in die gryse ouderdom en insig na baie jare. By God is wysheid en krag, by Hom is raad en insig. Job 12:12-13, 1983-vertaling
 
Aan Hom, die enigste en alwyse God, behoort die heerlikheid deur Jesus Christus tot in ewigheid! Amen. Romeine 16:27, 1983-vertaling
 
Daar is seker niemand wat nie graag as 'n wyse persoon gesien wil word nie. Deur die eeue is wysgere of filosowe hoog aangeslaan. Hulle wysgerigheid het 'n geweldige invloed op die gang van die geskiedenis gehad. Neem byvoorbeeld Karel Marx, seker die bekendste naam as mens oor sosialisme praat. Uit sy en ander se filosofie het 'n stelsel ontwikkel wat 'n geweldige invloed op die wêreld gehad het, soms tot groot nadeel. Wysgere se wysheid is ongelukkig nie altyd tot voordeel van die mensdom nie.
 
Wanneer Job sê dat mense gewoonlik eers na baie jare wysheid verkry, beteken dit nie dat net ouer mense wys is nie. Sommige jong mense het meer wysheid as baie ouer mense. Tog is dit so dat ervaring van baie jare die verkryging van wysheid kan bevorder. Wat Job hier bedoel is dat wysheid nie sommer maklik verkry word nie. Dit is 'n proses en soos ons almal uit dure ondervinding weet, is wysheid maar skaars. Ons is ook nie almal ten alle tye wys nie. Wyse mense kan soms groot flaters begaan.
 
Daarteenoor is God altyd wys en daarmee saam ook magtig. Sy raad en insig is iets heel anders as die van 'n mens, hoe slim of wys 'n persoon ook mag wees. God se wysheid en krag, raad en insig, is volmaak en elke oomblik tot ons voordeel beskikbaar.
 
Paulus sluit sy brief aan die Romeine af met 'n lofprysing waarin die woorde enigste en alwyse uitstaan. God is enig in sy godheid en sy wysheid. Sy wysheid is anders as die van mense. Sy wysheid is nie spekulasie of filosofie nie, maar word op 'n besondere manier sigbaar deur dit wat Jesus op aarde kom doen het. Ons filosofieë en wyshede is beperk en tydsgebonde. Die alwyse God se wysheid is vir ewig. Hy weet altyd presies wat goed is vir ons.
 
Gebed: Ons dank U dat U wat onbeperkte wysheid besit dit ook aanwend sodat ons die ewige lewe kan hê. Amen.
Next article: God is alomteenwoordig - 7 September 2026 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.