God is heilig - 9 September 2026
Ben Fourie
Die serafs het mekaar telkens toegeroep: "Heilig, heilig, heilig is die Here die Almagtige! Die hele aarde is vol van sy magtige teenwoordigheid." Jesaja 6:3, 1983-vertaling
Elkeen van die vier lewende wesens het ses vlerke gehad, wat aan die bokant en aan die onderkant vol oë was. Hulle het dag en nag sonder om te rus gesê: "Heilig, heilig, heilig is die Here God, die Almagtige, Hy wat was en wat is en wat kom." Openbaring 4:8, 1983-vertaling
Wanneer ons sê dat God heilig is, kan ons dit nie werklik as bloot 'n eienskap of kenmerk van Hom beskou nie. Sy heiligheid is die kern van wie Hy is. Die woord heilig kan wys op volmaaktheid, eerbiedwaardigheid, plegtigheid, gewydheid of afgesonderdheid. Die heilige voorwerpe in die tempel is byvoorbeeld gewy en afgesonder vir net een doel en mag daarom nêrens anders gebruik word nie. Deur dit vir iets anders te gebruik, sou dit ontheilig word en niks meer werd wees nie.
Die heiligheid van God word in beide die Ou en Nuwe Testament gesien as dat Hy afgesonder is van die geskape dinge en absoluut bo dit verhewe is. As ons van God se heiligheid praat bedoel ons dus dat Hy heeltemal anders is, baie groter as waartoe ons denke in staat is.
In ons twee teksverse kom sy heiligheid na vore in sy magtige teenwoordigheid. Die tydsverloop tussen Jesaja en Johannes is meer as sewehonderd jaar. Daarom is dit treffend hoe hierdie visioene wat hulle gesien het so merkwaardig eners is. Jesaja sien die Here waar Hy op 'n hoë troon sit met die serafs om Hom te dien en telkens uit te roep: “Heilig, heilig, heilig is die Here die Almagtige!”. Johannes sien ook 'n troon met Iemand wat daarop sit en vier lewende wesens wat uitroep: “Heilig, heilig, heilig is die Here God, die Almagtige”.
Hierdie ontsagwekkende beelde bring die absolute kontras tussen ons as mense en God as die Almagtige en Heilige na vore.
Tog hoef dit nie vir ons 'n verskrikking in te hou nie. Natuurlik moet ons groot ontsag vir God hê wanneer ons van sy heiligheid hoor, maar dit bring ook 'n wonderlike gerusstelling. Ons God is meer besonders as enigiets of enigiemand in die skepping. Ten spyte van sy grootheid en ons nietigheid, het Hy ons egter lief met die liefde van 'n Vader vir sy kinders.
Gebed: Baie dankie liewe Vader dat al is U so ongelooflik verhewe, U Uself neergebuig na ons, u kinders, deur u Seun Jesus Christus. Amen.