God is barmhartig - 16 September 2026
Ben Fourie
Terwyl Hy by Moses verbygaan, roep die Here: "Ek, die Here, is die barmhartige en genadige God, lankmoedig, vol liefde en trou." Eksodus 34:6, 1983-vertaling
Maar God is ryk in barmhartigheid en het ons innig lief. Deur sy groot liefde het Hy ons wat dood was as gevolg van ons oortredings, saam met Christus lewend gemaak. Uit genade is julle gered. Efesiërs 2:4-5. 1983-vertaling
Ons gebruik almal die woord barmhartig en verstaan wat ons daarmee wil sê, maar ek wou graag weet waar die woord “barm” vandaan kom. LitNet sê die volgende: “Dit was eers armhartig in Goties (’n hart hê vir die armes) en ’n vertaling van die Latynse misericors, waarin die dele miser: 'ellendig/arm/ongelukkig' en cor: 'hart' herken word”. Die betekenis van die Hebreeuse en Griekse woorde wat met barmhartig vertaal word sluit by hierdie definisie aan.
Met hierdie inligting verstaan ons meer van wat dit beteken dat God “barm”-hartig is, dit wil sê dat Hy 'n hart het vir die wat ellendig is, die wat arm is en die wat ongelukkig is. Dit sluit aan by die woorde van ons twee teksverse: genadig, lankmoedig, liefde, trou.
Die tweede helfte van die woord is “hart”. In beide die Ou en Nuwe Testament word die woord “hart” talle male gebruik, meesal in figuurlike sin. Die hart is die middelpunt van wie die persoon is. Met hart word bedoel die intellek, die emosies, gevoel en vermoëns. Saamgevat is die woord “hart”, die persoon as sulks.
Wanneer God aan Moses verklaar dat Hy barmhartig is, beteken dit dat Hy as persoon geheel en al ingestel is daarop om sy “arme” volk met lankmoedigheid of geduld te beskou. Verder dat sy liefde vir ons nie oppervlakkig is nie en dat Hy sy beloftes getrou sal nakom. In die brief aan die Efesiërs word dit alles tot 'n hoogtepunt gevoer wanneer Paulus sê dat God so ryk is aan barmhartigheid dat Hy ons wat “arm, ellendig en ongelukkig” is vanweë ons oortredinge, lewend maak in Christus. Wat 'n rykdom is dit nie!
En ons? In die verhaal van die barmhartige Samaritaan wys God vir ons tot watter mate ons ook onsself aan ons medemens moet gee.
Gebed: Barmhartige Vader, baie dankie dat U ons nooit afskeep nie, maar Uself geheel en al aan ons toewy. Amen