God is getrou - 18 September 2026
Ben Fourie
Ek sê: "U liefde en u trou wankel nooit, dit hou vir altyd stand in hemel en op aarde." Psalm 89:3, 1983-vertaling
Elkeen in die land wat om voorspoed bid, sal dit doen in die Naam van die God wat getrou is, en elkeen in die land wat 'n eed aflê, sal dit doen in die Naam van die God wat getrou is. Die swaarkry van vroeër sal vergeet wees, Ek laat dit verdwyn. Jesaja 65:16. 1983-vertaling
God is getrou, Hy wat julle geroep het om verenig te lewe met sy Seun, Christus Jesus, ons Here. 1 Korintiërs 1:9, 1983-vertaling
As ek regtig wil onspan, lees ek graag die Wilde Weste stories van Louis L’Amour. Een van die dinge wat my opgeval het is dat hy telkemale noem dat gewone mense in die Wilde Weste baie selde met geskrewe kontrakte gewerk het. Hulle het talle transaksies te goeder trou gedoen. Jy het die ander persoon tot die mate vertrou dat julle bloot met die skud van hande die saak beklink het. Die soort vertroue bestaan ongelukkig nie meer dikwels in ons moderne samelewing nie.
Dit sou wonderlik wees as ons almal wat ons ontmoet kon vertrou, veral diegene naby aan ons. Onlangs moes ek uitvind dat ek nie eers die persoon wat my vrieskas kom herstel het kon vertrou nie. In die dae toe ek nog baie betrokke was by pastorale sielkunde, het ek dikwels die versugting gehoor – kon ek maar net my kollega, lewensmaat, pa, ma of kind vertrou het. Nadat iemand 'n paar keer jou vertroue geskend het, begin jy katvoet loop.
Daarom is dit so noodsaaklik dat ons God kan vertrou. Ek het ook al mense ontmoet wat hulle vertroue in God verloor het, miskien vanweë die dood van 'n geliefde of die verlies van werk of watter trauma hulle ook al getref het. Wanneer dit gebeur, begin 'n mens regtig vra of God jou ook nie maar soms in die steek laat nie. Kan ek Hom in alles vertrou?
Daar is net een antwoord en dit is om in die Bybel te gaan kyk na hoe God met mense gewerk het. In die drie verse wat ons vandag gelees het, word God se trou gekenmerk deur liefde en permanensie. Dit word die beste geïllustreer in die wete dat Hy sy belofte nagekom het om ons uit sonde te red. Eers nadat dit gebeur het kan ons met Jesus verenig lewe. Ja, jy kan Hom maar absoluut vertrou.
Gebed. Troue God en Hemelse Vader, ons dank U dat U nooit ontrou is nie en altyd doen wat U beloof het en ons altyd op U kan staatmaak. Amen.