Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

God is ons redder - 23 September 2026

Ben Fourie
 
Die Here is my rots, my skuilplek en my redder, my God, my rots, by wie ek skuil, my skild en sterk verlosser, my veilige vesting, my toevlug en bevryder. Van geweld het U my verlos.  2 Samuel 22:2-3, 1983-vertaling
 
Die Here sal my red van elke onheil en my behoue in sy hemelse koninkryk bring. Aan Hom kom die eer toe tot in alle ewigheid! Amen. 2 Timoteus 4:18, 1983-vertaling
 
Dawid en Paulus. Wanneer hulle van redding praat, is dit nie sommer van hoorsê nie, hulle is twee mense wat deur die smeltkroes gekom het en God as redder eerstehands ervaar het. Albei van hulle kan dus met gesag daaroor praat.
 
Die lied wat hier in Samuel opgeteken is, is ook as Psalm 18 opgeteken. Aan die begin van 2 Samuel 22 word gesê dat die woorde van die lied opgeteken is toe die Here vir Dawid uit die mag van sy vyande en die mag van Saul gered het.
 
Luister hoe ryg Dawid die woorde in oor wat God vir hom beteken het in die tyd van nood: Rots, skuilplek, skild, sterk verlosser, veilige vesting, toevlug, bevryder. Die woord wat vir my al hierdie dinge bymekaarbring, is die woord redder. Om deur God gered te word beteken inderdaad dat 'n mens soos Dawid ervaar dat Hy jou bevry, skuilplek gee, verlos en soos 'n skild die gevare van jou weghou.
 
Wanneer Paulus sy woorde aan Timoteus skryf, ervaar hy teenstand teen sy bediening. Dit was natuurlik nie net hier die geval nie, maar oral waar hy die boodskap van Christus verkondig het. Hy noem enkele dinge soos dat die kopersmid, Alexander, hom baie kwaad aangedoen het en ook toe hy homself die eerste keer voor die hof moes verdedig en deur almal in die steek gelaat is. Dit alles maak nie regtig saak nie want, skryf hy in die teks van vandag: “Die Here sal my red van elke onheil.”
 
Om God as ons redder te hê, is natuurlik veel meer as net vir hierdie bestel. Oral in die Skrif hoor ons dat God ons redder is in die sin dat hy ons van die sonde verlos. Soos 'n lewensredder by die see mense red van 'n verdrinkingsdood, red God ons van die tweede dood. Ons lees mos in 1 Johannes 4:14: “En ons het gesien en is getuie daarvan dat die Vader die Seun as Redder van die wêreld gestuur het.”
 
Gebed: Ons loof en prys U, ons Vader, dat U ons red wanneer die lewe ons stief behandel, maar bo alles dat U ons red van die bose. Amen
Next article: God troos ons - 22 September 2026 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.