God is enig - 25 September 2026
Ben Fourie
Daar is niemand soos U nie, Here! Buiten U is daar geen God nie, van hoeveel gode ons ook al gehoor het. 1 Kronieke 17:20, 1983-vertaling
Daar is net één Here, één geloof, één doop, één God en Vader van almal: Hy wat oor almal is, deur almal werk en in almal woon. Efesiërs 4:5-6, 1983-vertaling
Niks op aarde is enig of uniek nie, maar dwarsdeur die Bybel leer ons vir God ken as 'n enige God en juis hierdie kenmerk maak hom absoluut uniek. Dit is ook juis hierdie uniekheid wat Hy telkens aan sy volk beklemtoon, en dit is juis op hierdie terrein wat die volk dikwels oortree deur in afgode te glo.
Dawid was met sy foute en al 'n koning na God se hart, maar ten spyte hiervan wil Hy nie toelaat dat Dawid vir Hom 'n tempel bou nie. Mens sou dink dat dit vir Dawid maar 'n bitter pil sou wees om te sluk, maar as ons hierdie hoofstuk uit Kronieke lees, is dit allermins die geval. Inteendeel, Dawid is dankbaar dat 'n seun uit sy gesin – soos ons weet was dit Salomo – wel die taak sou kry om God se woning te bou.
Wanneer Dawid by God hoor oor sy seun: “Hy sal vir my 'n huis bou en Ek sal sy troon blywend vestig” (1 Kronieke 17:12) begin hy met lof aan God vir sy weldade en is ons teksvers die hoogtepunt: “Daar is niemand soos U nie, Here! Buiten U is daar geen God nie ...” Dit maak dus nie saak van hoeveel gode hulle al gehoor het nie, God is enig.
In die brief aan die Efesiërs skryf Paulus oor die eenheid van die kerk. Vir gelowiges om 'n eenheid te vorm wys hy dan na presies dit wat Dawid ook van praat. God is nie een van baie gode nie, daar is net één Here. Daarom moet daar by gelowiges ook net “één geloof, één doop, één God en Vader van almal” wees. Maak nie saak, soos Dawid sê, van hoeveel gode ons al gehoor het nie, daar is net een ware God. As ons dit nie glo nie, kan God nie in ons kom woon nie.
Gebed: Ons bely vandag saam met Dawid en Paulus dat U die enigste God is en ons dank U dat U ook in ons lewens werk en bo alles ook deur u Gees in ons woon. Amen.