God is liefde - 28 September 2026
Ben Fourie
maar Ek betoon my liefde tot aan die duisendste geslag van dié wat My liefhet en my gebooie gehoorsaam. Eksodus 20: 6, 1983-vertaling
Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was. Romeine 5:8. 1983-vertaling
Om die begrippe liefde en liefhê te definieer is byna onmoontlik. Warme toegeneentheid, gehegtheid, om te bemin, om baie van te hou, die hoogste vorm van omgee en nog vele meer. Dit is alles deel van die prentjie, maar nie een beskryf presies wat liefde is nie, want ons het elkeen sy of haar eie idee wat met al hierdie verskillende dinge bedoel word.
Wat vir een persoon na oorvloedige liefde lyk, kan vir iemand anders hopeloos te min liefde beteken. Die betekenis wat ons elkeen aan die begrip liefde heg, het ook baie te doen met hoe, waar en saam met wie ons grootgeword het, die land waar ons woon, en nog baie ander faktore. Die een ding wat ons almal wel onder liefde verstaan, is dat dit veronderstel is om tot ons voordeel te wees.
Wanneer ons van God se liefde vir ons praat, het ons elkeen ook ons eie idee wat dit werklik beteken. Ons kan nie vir mekaar voorskryf hoe elkeen dit moet ervaar nie, maar ons het wel in die Bybel oorvloedige voorbeelde van wat Paulus God se “innige liefde” vir ons noem. (Efesiërs 2:4)
Ons sien soms die Tien Gebooie as baie streng en moeilik om te onderhou. Ons skram selfs daarvan weg. Tog is daar min plekke in die Bybel waar God se liefde so duidelik uitgespel word as in die begin van die gebooie soos opgeteken in Eksodus 20. In kontras met sy waarskuwing dat mense hulleself deur sonde van Hom vervreem selfs vir twee of drie geslagte, strek sy liefde tot aan die duisendste geslag van die wat hom liefhet en sy gebooie gehoorsaam. Teenoor ons liefde wat soms baie tydelik is, is God se liefde nimmereindigend.
Hierdie nimmereindige liefde word die heel beste geïllustreer deur wat ons in Romeine lees. Daar staan dat Jesus se sterwe aan die kruis nie vir goeie mense was nie, maar vir sondaars. Dit is ons.
Gebed: Hemelse Vader, u liefde is vir ons onbegryplik groot. Baie dankie dat, al verstaan ons dit nie, ons weet dit is so. Amen